Reën stuit Pakistan nie in sy spore

Pakistan het sy kolfspiere teen Nieu-Seeland gebult. (Foto: Twitter/Pakistan Cricket)

Die slim manne met hul sakrekenaars het weer eens hul verskyning by ʼn Wêreldbekerwedstryd gemaak toe Pakistan vir Nieu-Seeland met 21 lopies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode (DLS) geklop het.

Die Kiwi’s het eerste gekolf en danksy Rachin Ravindra (108 lopies) en Kane Williamson (95 lopies) se indrukwekkende beurte 401/6 in hul toegelate 50 boulbeurte opgestapel.

Dit was Nieu-Seeland se hoogste telling nóg in ʼn Wêreldbekertoernooi.

Maar Fakhar Zaman het sy vierde honderdtal van 2023 teen die Swartpette gemoker en saam met Babar Azam het ʼn wenteiken van 402 lopies glad nie onmoontlik gelyk nie.

Die twee kolwers het ʼn onoorwonne vennootskap van 194 lopies van slegs 141 aflewerings geniet en die Nieu-Seelandse boulers het swaar geleef: Net Tim Southee het minder as ses lopies per boulbeurt afgestaan.

Die reën het egter in die 22ste boulbeurt begin uitsak en die wedstryd is later – met Pakistan se telling op 200/1 ná 25,3 boulbeurte – afgelas.

Oudergewoonte is Pakistan die span wat vir die meeste verrassings by ʼn Wêreldbekertoernooi sorg. ʼn Mens kan hulle nooit afskryf nie want hulle kan enige tyd ʼn haas uit die hoed pluk.

Babar Azam en kie staan nou ʼn realistiese kans om vir die halfeindstryd van die krieketskouspel te kwalifiseer.

  • Opsomming van die telkaart:

Nieu-Seeland 401/6 in 50 boulbeurte: Rachin Ravindra 108, Kane Williamson 95 en Mohammad Wasim 3/60.

Pakistan 200/1 ná 25,3 boulbeurte: Fakhar Zaman 126*, Babar Azam 66* en Tim Southee 1/27.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.