Rekord-laagtepunt vir Engeland, kolfrekord vir Amla

Hashim Amla – die vinnigste kolwer tot by 7 000 lopies (Foto GB Jordaan)

Die Proteas het wel die eendagreeks verloor, maar het in die derde eendagstryd ernstig spiere gebult. En dit was veral die boulers wat dit gedoen het, met Kagiso Rabada vooraan.

Die Proteas het met sewe paaltjies gewen nadat die Engelse goed vasgebyt en vir 153 uitgehaal is.

Die beroemde Lords-krieketveld was volgepak toe AB de Villiers die Engelse span ingestuur het om te kolf.

Met die telling op 20/6 in die vyfde boulbeurt was die entoesiastiese skare maar redelik stil.

Dit was die vinnigste verlies van die eerste ses paaltjies in die geskiedenis van eendaagse krieket.

Kagiso Rabada het briljant geboul en vier van daardie ses paaltjies ingepalm. Hy is goed deur Wayne Parnell ondersteun, wat twee paaltjies geneem het.

Maar die Engelse bulhond het vasgebyt en die sewende paaltjie, dié van David Willey (26), het eers in die 20ste boulbeurt op 82/7 geval toe Parnell sy derde paaltjie geneem het.

Johnny Bairstow het 51 lopies aangeteken voordat hy deur Quinton de Kock van Keshav Maharaj se boulwerk gestonk is. Bairstow se telling was die hoogste van die kolfbeurt. Dit is ironies dat hy glad nie seker van sy plek in die Engelse span vir die Kampioenetrofee is nie.

Die enigste ander kolwer wat dubbelsyfers bereik het, was Toby Roland-Jones wat end-uit vir 37 lopies gekolf het. Engeland is in die 32ste boulbeurt vir 153 lopies uitgehaal en Maharaj het self uitstekend vir sy drie paaltjies geboul.

Aangesien die Engelse span so kort gekolf het, moes die Proteas hulle kolfbeurt begin voor die tradisionele etenstyd tussen die kolfbeurte. Dit het ook begin reën toe Hashim Amla en Quinton de Kock stelling voor die paaltjies inneem.

Amla is met sy telling op 55 van 54 balle af deur Roland-Jones op 95 geboul. Amla het in die kolfbeurt ʼn groot mylpaal bereik. Hy het 7 000 lopies in 150 kolfbeurte in eendagkrieket verbygesteek – die vinnigste wat hierdie mylpaal in wêreldkrieket bereik is.

De Kock is in die volgende boulbeurt skoongeboul. Hy het 34 van 39 balle. Faf du Plessis het net vyf lopies gekry voor hy agter die paaltjies uitgevang is. Die telling was toe 101/3.

JP Duminy (28*) en AB de Villiers (27*) het die kolfwerk voortgesit en in die 29ste boulbeurt het hulle die teiken van 154 verbygesteek.

Om die volle telkaart te kry, klik op die volgende skakel:  http://www.espncricinfo.com/england-v-south-africa-2017/engine/match/1031427.html

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

Daar is groot fout in ons krieket. Die afrigter moet weer aansoek doen vir sy pos. Dit laat die hele span speel met ‘n swaard oor die kop.
Ons boul werk gaan ons nog duur te staan kom. Hoe laat jy toe om met ‘n span wat op 20/6 staan, nog 133 lopies kry, met laer order kolwers?
Ons beste boulers van die verlede (Allan Donald, Fanie de Viliers, Pat Symcox ens.) is glad nie meer in die prentjie as die by SA Krieket kom nie. Hoekom nie? Regstellende aksie?
Met so ‘n boul aanval gaan ons lelik slae kry by die Kampioene Trofee en volgende wêreld beker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.