Rekord-vennootskap laat kolwe flits teen Proteas

Nat Sciver en Alice Davidson-Richards het ’n vennootskap van 207 lopies om die sesde paaltjie geniet. Foto: Twitter.

Hopelik het die Proteas hul notaboeke byderhand gehad terwyl Engeland se Nat Sciver en Alice Davidson-Richards gekolf het; daar was ’n waardevolle les om te leer.

Want ná Marizanne Kapp se manjifieke honderdtal het Anneke Bosch gesorg dat die Engelse op 121/5 in antwoord op Suid-Afrika se eerstebeurttelling van 284 gesteier het.

Maar Sciver en Davidson-Richards – wat sedert hul skooldae vriendinne is – het ’n vennootskap van 207 lopies om die sesde paaltjie geniet; ’n rekordvennootskap vir Engeland om dié paaltjie in toetskrieket.

Lizelle Lee het egter met die laaste aflewering van die dag se spel vir Davidson-Richards van Tumi Sekhukhune se boulwerk uitgevang. Teen uitskeityd het Engeland 328/6 op die telbord gehad – ’n voorsprong van 44 lopies.

Davidson-Richards het boonop slegs die tweede Engelse speler sedert die legendariese WG Grace geword om met ’n honderdtal en ’n paaltjie in ’n toetsbuiging te spog.

Die les wat die Proteas kon leer?

Moenie net op een kolwer (Kapp, in hierdie geval) staatmaak om lopies aan te teken nie. Ja, sy kan die kastaiings uit die vuur krap, maar goeie vennootskappe wen wedstryde.

Spel word vandag om 12:00 hervat en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 284/10 in 91.4 boulbeurte: Marizanne Kapp 150, Anneke Bosch 30 en Kate Cross 4/63.

Engeland 328/6 in 99.5 boulbeurte: Nat Sciver 119*, Alice Davidson-Richards 107 en Anneke Bosch 3/59.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.