Rhodes-hulle ontspoor die Pietersen-wegholtrein

Foto: Twitter.

Kevin Pietersen het in sy vorige twee legendes-wedstryde amok teen Indië en Bangladesj gemaak en dinge het onheilspellend vir die Suid-Afrikaanse veterane gelyk toe hy ’n spul grenshoue van Makhaya Ntini se boulwerk gemoker het.

Maar hy is kort daarna deur ’n skitterende Thandi Tshabalala (3/26) been voor paaltjie betrap en die hele Engelse kolfbeurt het in duie gestort.

Die 36-jarige Tshabalala het uitstekend met Ntini (2/24) gekombineer om die Engelsmanne vir 121 in die 19de boulbeurt uit te knikker.

Daarna het Morne van Wyk (46 van 31 balle) en Alviro Petersen (31 van 18 balle) die wind uit die Engelse se seile gehaal, voordat ’n Jonty Rhodes-warrelwindbeurt die wedstryd vir die Suid-Afrikaners met agt paaltjies beklink het.

Rhodes het twee viere in sy beurt van 17 gemoker voordat hy die wedstryd met ’n ses gewen het.

Die Suid-Afrikaners is nou derde op die punteleer – naas Sri Lanka en Indië – en hul volgende wedstryd is môre wanneer hulle Indië aanvat.

Die Indiese span bevat sterre soos Sachin Tendulkar, Yuvraj Singh, Irfan Pathan en Virender Sehwag in hul geledere en dit sal glad nie ’n maklike taak wees om hulle op hul tuisveld te troef nie.

Rhodes-hulle het juis in hul Sri-Lanka-stryd teen draaiers gesukkel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Russ1 ·

Dit was so lekker om te sien. Miskien moet die ou manne maar weer kom speel, kan beslis net beter vaar as die spul wat nou daar is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.