Rilee Rossouw bult sy spiere

Rilee Rossouw tydens ‘n oefening in Karatsji in Februarie vanjaar. (Foto: Asif Hassan/AFP)

Maak plek vir Rilee Rossouw in die Proteas se witbalkrieketspanne.

Dit was een van die lesse wat hopelik uit Krieket Suid-Afrika (KSA) se eerste provinsiale T20-reeks geleer is.

Die Knights, met Rossouw aan die spits, is KSA se eerste kampioen nadat hulle Vrydag in Kimberley ʼn oorwinning van sewe lopies oor die Dolphins in die eindstryd behaal het.

Die Knights se goed geoliede kolfmasjien, gerugsteun deur Patrick Kruger (61), Pite van Biljon (42) en Rossouw (28) het 176/5 in hul 20 boulbeurte aangeteken.

Darryn Dupavillon (2/24) was die Dolphins se beste bouler, maar die res kon nie die lopievloei beheer nie.

Die Dolphins, met Khaya Zondo (adjunkhoofregter Raymond Zondo se seun) met 43 en Sarel Erwee (2) het wal gegooi, maar hulle het by 169/6 gedraai, met Migael Pretorius (3/30) wat die remme aangedraai het.

* Die onbesonge Noordwes Dragons was in die halfeindstryd teen die Knights op pad na ʼn maklike oorwinning toe dit begin reën het.

Noordwes (42/0 in 2.3 boulbeurte) sou die Knights (127/7) na alle waarskynlikheid op ʼn drafstap geklop toe dit begin reën het.

As die reën vir nog 2.3 boulbeurte weggebly het, kon die Noordwesters in die eindstryd gespeel het, maar ongelukkig is vyf boulbeurte vir elke span die minimum vereiste vir ʼn uitslag.

Noordwes se lopietempo (0.118) was swakker as dié van die Knights (1.110) en hulle is uitgeskakel.

* Daar was baie ligpunte in die reeks, met die kolfwerk van Rossouw wat uitgetroon het.

Rossouw, wat in 2016 laas vir Suid-Afrika gespeel het, kan soomloos by die nasionale span in eendag-en T20-krieket inskakel as daar op sy knoppie gedruk word. Maar in wie se plek?

Hy het 295 lopies in vyf beurte in die provinsiale reeks aangeteken teen ʼn gemiddeld van 98.33 en met ʼn treftempo van 157.75.

Hy was verreweg die beste, bestendigste en mees imposante kolwer.

Hy was die enigste speler wat meer as 200 lopies kon aanteken met Matthew Breetzke (190 lopies teen ʼn gemiddeld van 47.56) tweede op die kolflys.

Rossouw, wat sy eendagdebuut in 2014 vir Suid-Afrika gemaak het, het in onguns verval nadat hy in Oktober 2016 in sy laaste eendagwedstryd gespeel het.

In 36 eendagwedstryde vir die Proteas het hy 1 239 lopies teen ʼn gemiddeld van 38.71 aangeteken.

In 15 T20-wedstryde vir Suid-Afrika het hy 327 lopies aangeteken teen ʼn gemiddeld van 29.77 voordat hy te lig bevind is.

Nou het hy opnuut sy kaarte op die tafel geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Dirk Mostert

Farhaan Behardien is nog ‘n speler wat oor die hoof gesien word. Hy bly ‘n staatmaker.