Root wys Indië waar die wortels gegrawe is

Joe Root. Foto: Twitter.

Kolwers wat Indië besoek, sukkel gereeld om die tuisspan se draaiers op die land se grondpad-blaaie te tem. Vra net vir die Protea-kolwers ná hul vorige toer.

Maar as jou naam Joe Root is, het jy duidelik ander planne.

Die 30-jarige Engelse toetskaptein het 218 lopies van 377 aflewerings in sy span se eerste beurt geslaan. Saam met Dom Sibley (87) en Ben Stokes (82) het hy toegesien dat die besoekers 578 aangeteken het.

Engeland is ongetwyfeld op die voorvoet nadat hulle die tuisspan se draaiers onder kwaai druk geplaas het. Ravichandaran Ashwin (3/146) en Shahbaz Nadeem (2/167) het gesukkel om hul stempel op die wedstryd af te druk en Stokes het ’n paar sesse geslaan.

Dan het Jofra Archer die krane oopgedraai en twee paaltjies geneem om verdere sout in Indië se wonde te vryf.

Engeland het die vorige reeks teen Sri Lanka op ’n drafstap gewen, terwyl Indië uitstekend vertoon het om die toetsreeks teen Australië te beklink.

Suid-Afrika se Jacques Kallis was Engeland se kolfwerk-konsultant tydens hul toer na Sri Lanka.

Die 45-jarige Kapenaar was in ’n soortgelyke hoedanigheid deel van die Protea-opset toe die Engelsmanne laat in 2019 na Suid-Afrika getoer het.

Sy diens is egter sedertdien nie weer deur die Proteas benodig nie en in die huidige administratiewe warboel waarin Krieket Suid-Afrika (KSA) hom bevind, is die tydelike Engeland-pos waarskynlik ’n slim skuif.

Die Engelsmanne het juis hul waardering vir Kallis uitgespreek. Die rooikopkolwer Jonny Bairstow het gesê dat die Suid-Afrikaner die “beste veelsydige speler ooit is”, terwyl Dan Lawrence opgewonde was om saam met “die wêreld se beste” te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.