Rossouw word ’n Renegade in Australië

Imran Tahir en Rilee Rossouw gaan vir die Melbourne Renegades speel. Foto: Twitter.

Die veglustige Rilee Rossouw sal deel van die Melbourne Renegades se groep vir die komende Big Bash League wees.

Die 31-jarige was een van die Proteas se sterre in die 2015-Wêreldbeker-kriekettoernooi in Australië en Nieu-Seeland voordat hy ’n Kolpak-kontrak met Hampshire onderteken het.

In 36 internasionale eendagwedstryde het hy 1 239 lopies vir Suid-Afrika teen ’n gemiddeld van 38,71 en ’n treftempo van 94,36 aangeteken. Hy het amper 5 000 lopies teen ’n gemiddeld van 29,72 gemoker tydens sy T20-verskynings.

Rossouw sal saam met oorsese spelers soos Mohammad Nabi en Imran Tahir vir die ganse BBL-seisoen beskikbaar wees; ’n verwikkeling wat afrigter Michael Klinger baie opgewonde maak.

“Hy was die afgelope paar seisoene een van die gevaarlikste kolwers op die wêreldverhoog en sy veelsydigheid beteken dat ons hom enige plek in die kolflys kan inspan,” het Klinger gesê.

Volgens die Renegade-afrigter sal hy vir Rossouw aanvanklik in die middelorde gebruik waar hy snelboulers en draaiers die stryd sal aansê.

“Ek geniet dit om in Australië te speel en hopelik word toeskouers teen die einde van die toernooi toegelaat. Ek het gehoor dat die Renegades se ondersteuners baie passievol is en ek sal mal daaroor wees om voor hulle te speel,” het Rossouw gesê.

Maroela Media het verlede week berig dat een van Rossouw se Protea-spanmaats, Morné Morkel, vir Brisbane Heat as ’n plaaslike speler sal speel.

Morkel is in Vereeniging gebore en het 309 toets- en 188 eendagkrieketpaaltjies vir Suid-Afrika geneem. Hy het veral ’n gedugte bouleenheid saam met Dale Steyn en Vernon Philander onder Graeme Smith se leiding gevorm.

Hy is met die Australiese uitsaaier Roz Kelly getroud en het onlangs permanente verblyfreg in die land verkry.

“Ek geniet steeds my krieket en ek is baie opgewonde daaroor om deel van die Heat-opset te word. Ek erken dat dit nogal vreemd sal wees om na myself as ’n plaaslike speler te verwys, maar dit is ’n nuwe hoofstuk van ons lewe waarna ek baie uitsien,” het Morkel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dubbelloop ·

Ja, Rilee was ook een vd baie beter spelers waar SA krieket die rug op hom gekeer het, net so met Jacques Rudolph, Neil McKenzie, en meer. Daar moes mos plek gemaak word vir kwota spelers in die SA span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.