SA boulers lewer ’n vuisvoos-vertoning op eerste dag

Sri Lanka se Kusal Mendis en Suid-Afrika se Lungi Ngidi (Foto: Catherine Kotze)

Wanneer ’n mens verby die Protea-krieketspan se gebalde vuiste ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging kyk, het hul boulers ook ’n bra vuisvoos-vertoning in die openingsdag van die eerste toets teen Sri Lanka op SuperSportpark in Centurion gelewer.

Die besoekers se kolflys spog nie met veel groot name nie – Kusal Mendis is hul voorste kolwer en hy is 21ste op die wêreldranglys – maar hulle het steeds 340/6 ná 85 boulbeurte opgestapel.

Sri Lanka se kolwers was doelgerig en hulle het met aggressie gekolf; selfs al was hul telling in ’n stadium 54/3, het hulle steeds die telbord teen vier lopies per boulbeurt aan die gang gehou.

Dinesh Chandimal (85) en Dhananjaya de Silva (79) se vennootskap het die wind uit die Suid-Afrikaners se seile gehaal en selfs nadat De Silva die veld noodgedwonge met ’n besering moes verlaat, het Niroshan Dickwella (49) en kie nie hul voet van die versnelpedaal gehaal nie.

Op sy beurt het Quinton de Kock waarskynlik in afgryse gekyk hoe sy boulers ’n blink begin tot die wedstryd weggesmyt het.

Sy boulaanval is weliswaar onervare – Lungi Ngidi, Anrich Norté, Lutho Sipamla en Wiaan Mulder het nog net in ’n handjievol toetse gespeel – maar dit het met tye gelyk asof ’n goeie hoërskoolkolwer hulle ook hoofbrekens sou gegee het.

Veral Sipamla (1/68) het in sy toetsbuiging onder die besoekers se flitsende kolwe deurgeloop: Hy het 28 lopies in sy eerste drie boulbeurte afgestaan en hoewel hy later goed teruggeveg het, is hy steeds teen 4,86 lopies per boulbeurt geslaan.

Nortjé het vinnig geboul en het gereeld kartetse van 150 km/h afgestuur, maar hy was met tye wisselvallig en die besoekers se kolwers het vuur met vuur beveg.

Sri Lanka se vorige hoogste telling in Suid-Afrika was die beurt van 340 wat hulle in 2012 in Kaapstad opgestapel het. Nie net is hulle goed op koers om dié telling te verbeter nie, maar hulle het ook die hef in die hand op SuperSportpark.

Spel word vandag om 09:50 hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.