SA kolwer trek Birmingham Bears met sy goëlballe plat

Colin Ackermann spog met ’n boulontleding van 7/18. Foto: Leicestershire Facebook-blad.

Suid-Afrika se Colin Ackermann, wat vir Leicestershire in die Vitality Blast-reeks aanvoer, het gister op Grace Road geskiedenis gemaak toe hy vir die beste boulontleding in die bestaan van T20-krieket gesorg het.

Die 28-jarige Ackermann het in Leicester die Birmingham Bears skoon dronk gedraai en spog met ’n ongelooflike boulontleding van 7/18 – die eerste keer ooit dat ’n bouler sewe paaltjies in ’n wedstryd van 20 boulbeurte neem.

Ackermann, wat vir die Warriors in Suid-Afrika speel, het in 2016 ’n Kolpak-kontrak met dié graafskap gesluit.

Hy het gister in die derde boulbeurt reeds ingeklim om van Michael Burgress vir 10 ontslae te raak. Birmingham moes ’n teiken van 190 gejaag het.

Ackermann het egter die kitaar behoorlik in die 14de en 16de boulbeurt begin slaan, toe hy ses paaltjies laat spat het om die Birmingham-beurt in duie te laat stort. Die Bears het van 118/3 na 134/9 gestruikel en het geen antwoord vir die Suid-Afrikaner gehad nie.

Sy slagoffers het Will Rhodes, Liam Banks, Alex Thomson, Sam Hain, Henry Brookes en Nieu-Seeland se Jeetan Patel ingesluit.

Die vorige rekord is deur Somerset se Arul Suppiah, wat 6/5 teen Glamorgan in 2011 geneem het.

“Ek sou nooit vir een oomblik kon dink dat ek ’n boulwerk-rekord agter my naam sou hê nie!” het Ackermann ná die wedstryd gesê.

“Dink dit was die eerste keer ooit dat die bal op Grace Road gedraai het en ek het my lengte probeer benut om ’n bietjie wip uit die blad te bewerkstellig. Selfs wanneer die bal dan net ’n klein bietjie draai, is dit ’n voordeel. Terselfdertyd het ek die kolwers probeer aanmoedig om my na die grootste gedeelte van die veld te slaan; gelukkig het die wind ook in die regte rigting gewaai wat dinge vir hulle bemoeilik het.”

  • Leicester het die wedstryd met 55 lopies gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

N.C. ·

EINTLIK IS AKKERMAN N BATTING ALLROUNDER, MEER N KOLWER, DAAROM PRAAT HULLE VAN SA KOLWER.

Nico ·

En wys nog ‘n kolpak speler wat SA verloor deur te volhard met ANC kwotas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.