SA krieketspelers vertoon sterk in Engeland

David Bedingham. Foto: Twitter.

Engeland se County-krieketkampioenskap is weer in volle swang en oudergewoonte tel Suid-Afrikaans gebore spelers onder die sterre.

David Bedingham wat ’n paar jaar gelede aan Wynberg Boys’ High gematrikuleer het, is die voorste lopiemaker in die reeks. Die 27-jarige kolwer het reeds 567 lopies in sewe beurte teen ’n bobaas-gemiddeld van 113,40 vir Durham geslaan.

Toe Bedingham destyds besluit het om in Engeland te gaan speel, het Ashwell Prince teen Krieket Suid-Afrika uitgevaar.

“Ons kan nie aanhou maak asof daar niks verkeerd is nie. Dit is hoogtyd dat KSA ’n bietjie ondersoek instel en nie doekies omdraai oor waarom spelers loop nie,” het Prince, voormalige Protea-kolwer en Cobras-afrigter, gesê.

Bedingham se eersterangse gemiddeld is net minder as 50 lopies per kolfbeurt en hy was ’n lid van Suid-Afrika se o.19-Wêreldbekerspan.

Simon Harmer vier ’n paaltjie in Proteas-kleure. (AP Photo/Rafiq Maqbool)

Dan is Simon Harmer weer eens tussen die paaltjies.

Die 32-jarige draaier wat homself vroeër as die “beste wegbreek-bouler ter wêreld” bestempel het, het reeds 22 paaltjies in sy vyf wedstryde vir Essex laat spat. Dit sluit tien paaltjies in die wedstryd teen Durham in.

Harmer het verlede jaar die verbeelding van die Engelse krieketliefhebbers aangegryp toe hy vir die derde keer in sy loopbaan 14 of meer paaltjies in ’n kragmeting laat kantel het.

Hy het Suid-Afrika in 2017 verlaat nadat die moontlikheid opgeduik het om nie eens deur die Warriors gekontrakteer te word nie. Boonop is hy ook ná slegs vyf toetse deur die Protea-keurders in die pad gesteek.

Die Suid-Afrikaner het in sy kort internasionale loopbaan 20 paaltjies vir die Proteas teen ’n gemiddeld van 29 geneem, maar in die afgelope vier seisoene het hy 230 paaltjies vir sy graafskapspan teen ’n spoggemiddeld van 20,01 laat spat.

Hoewel hy destyds ’n Kolpak-kontrak met Essex onderteken het, het Brexit sy kanse om toetskrieket vir Engeland te speel in die wiele gery.

Hashim Amla (Foto: GB Jordaan)

Hy was vroeër vanjaar vir die Titans in die plaaslike T20-reeks te sien en hy het gesê dat hy nog daarvan droom om krieket vir Suid-Afrika te speel.

Intussen is die 38-jarige Hashim Amla ook besig om die horlosie in Engeland terug te draai.

Die voormalige Protea-kolwer speel deesdae vir Surrey waar hy reeds 305 lopies teen ’n gemiddeld van 51,33 geslaan het. Sy gemiddeld het egter ’n welkome hupstoot te danke aan sy spoggerige onoorwonne beurt van 215 teen Hampshire gekry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tino ·

Welgedaan manne!!

Soek heenkome elders waar julle talent waardeur word en daar nie teen jou gediskrimineer word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.