SA met rug teen die muur in derde kriekettoets

Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Suid-Afrika was teen uitskeityd op die derde dag met sy rug teen die muur in die derde kriekettoets teen Australië in Adelaide. Die Proteas is op 194/6 in hul tweede kolfbeurt slegs 70 lopies voor Australië met nog twee dae se speeltyd oor.

Australië het Saterdag, met nog vier paaltjies staande, hul eerstebeurt-telling met 76 lopies tot 383 almal uit aangeskuif. Dit het aan hulle ʼn eerstebeurt-voorsprong van 124 gegee en was grootliks te danke aan ʼn baie goeie en stewige kolfbeurt van 145 deur hul beste kolwer in die reeks, Usman Khawaja.

Hy het Saterdag weliswaar net sewe lopies by sy oornagtelling gevoeg voordat Vernon Philander hom beenvoor betrap het, maar die stertkantkolwers, veral Mitchell Starc met ʼn goeie 53 lopies, het die Proteas daarna gefrustreer.

♦ Suid-Afrika se kolfbeurt het sleg begin. Die eerste paaltjie het in die eerste boulbeurt geval toe Dean Elgar vir nul en met net een lopie op die telbord moes terugstap.

Hashim Amla, wat in die reeks gesukkel het, het toe saam met Stephen Cook die telling tot 82/2 geneem en ʼn verdienstelike 45 bygedra voordat Josh Hazlewood hom vir die vyfde keer in ses kolfbeurte in die reeks uitgehaal het.

JP Duminy (26) is deur Nathan Lyon uitoorlê; Faf du Plessis (12) kon nie sy eerstebeurt-vertoning herhaal nie en was ʼn slagoffer van Starc; en Temba Bavuma (21) se paaltjie is ook deur Lyon geneem. Kyle Abbott, wat as nagwag ingestuur is, is vir nul beenvoor deur dié draaier betrap.

Quinton de Kock, die Proteas se suksesvolste kolwer in die reeks, kon die drie oorblywende balle afweer en Suid-Afrika se telling was 194/6 toe die balkies vir die dag se spel afgehaal is.

Te midde van hierdie teleurstellende kolfvertoning het die Proteas se aanvangskolwer, Cook, met toewyding en omsigtigheid gekolf en die span se beurt in sy vyf uur (199 balle) voor die penne probeer bymekaar hou.

Hy sal Sondag saam met veral De Kock en Philander nog sowat 200 lopies tot die telling moet probeer toevoeg om aan die boulers ʼn telling te gee om na te boul.

♦ Die bal het Saterdag in die laaste drie uur meer van die blad af beweeg as vroeër en dit was opvallend hoeveel Lyon die bal skielik laat draai het nadat hy dit nie in die eerste beurt kon regkry nie. Wie weet, die Proteas se boulers kan, nie vir die eerste keer in die reeks nie, dalk nog ʼn sege behaal.

Opgesomde telkaart

Suid-Afrika eerste beurt: 259/9 verklaar. (Kolwers: Faf du Plessis 118*, Stephen Cook 40, Quinton de Kock 24, Tabraiz Shamsi 18, Kyle Abbot 17. Boulers: Josh Hazlewood 4/68, Mitchell Starc 2/78, Jackson Bird 2/57, Nathan Lyon 1/45).

Australië eerste beurt: 383 (Kolwers: Usman Khawaja 145, Mitchell Starc 53, Steve Smith 59, Peter Handscomb 54. Boulers: Kyle Abbott 3/38, Vernon Philander 2/100, Kagiso Rabada 3/84, Tabraiz Shamsi 1/101).
Suid-Afrika tweede beurt: 194/6 (Kolwers: Stephen Cook 81*, Hashim Amla 45, JP Duminy 26, Faf du Plessis 12, Temba Bavuma 21. Boulers: Nathan Lyon 3/48, Mitchell Starc 2/71, Josh Hazelwood 1/22).

Suid-Afrika is 70 lopies voor met vier tweedebeurt-paaltjies staande.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.