SA se Morris maak sy stem vir RCB dik

Chris Morris. Foto: Twitter.

Die veelsydige Suid-Afrikaanse speler, Chris Morris, het gisteraand in sy eerste wedstryd vir die Royal Challengers Bangalore amok teen die Chennai Super Kings gemaak.

Die 33-jarige het die Super Kings se kolwers goed in toom gehou en spog met boulsyfers van 3/19. Hy het onder meer van Sam Curran (0) en Dwayne Bravo (7) ontslae geraak, terwyl hy vir Faf du Plessis (8) uitgevang en vir Narayan Jagadeesan (33) uitgehardloop het.

Sy heldedade het gesorg dat RCB die wedstryd met 37 lopies gewen het.

AB de Villiers is egter vir ’n nulletjie agter die paaltjies uitgevang.

In gister se ander wedstryd het die Kings XI Punjab ’n maklike oorwinning deur hul vingers laat glip om met twee lopies teen die Kolkata Knight Riders te verloor.

Die Punjab-span moes 21 lopies van 17 aflewerings vir ’n oorwinning aanteken en boonop was daar nog nege paaltjies staande, maar hulle kon net nie die wa deur die drif trek nie.

Glenn Maxwell moes op die einde 14 lopies van die wedstryd se laaste boulbeurt – geboul deur Sunil Narine – slaan om die kragmeting vir Punjab te wen.

Die Aussie het sy bes gedoen en hy het so amper die wedstryd met ’n ses van die laaste bal beklink, maar die bal het net vóór die grenstou geland.

In later vanmiddag se wedstryd speel Quinton de Kock se Mumbai Indians teen die blitsige Kagiso Rabada en Anrich Nortjé se Delhi Capitals.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae