SA se veldwerk en middelkolwers gee reekssege aan Sri Lanka

Die foto is tydens Sondag se wedstryd geneem. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Die foto is tydens Sondag se wedstryd geneem. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Selfs ʼn skitterende 63 in 44 balle van AB de Villiers kon Woensdagaand op Nuweland nie verhoed dat Sri Lanka die derde T20-krieketwedstryd met vyf paaltjies wen nie. Daarmee het Sri Lanka ook die T20-reeks gewen.

Sri Lanka se oorwinning kan grootliks toegeskryf word aan die swak veldwerk van die Proteas, en die kolwers wat ook in die middel van die kolfbeurt die spoor byster geraak het. Die Proteas het tussen die 14de en 18de boulbeurte met vier paaltjies vir slegs 28 lopies in 24 balle verloor.

Suid-Afrika, wat besluit het om eerste te kolf, het desondanks ʼn stewige 169/5 in sy beurt behaal met Sri Lanka (170/5) wat die Proteas se telling met een bal van hul toegelate 20 boulbeurte verbygesteek het.

Dit is maklik om ná die wedstryd kommentaar te lewer, maar dit was ʼn kolwerskolfblad soos min met die bal wat gelyk en sonder streke van die blad af deurgekom het. Ná die goeie begin moes ʼn SA telling van so 190-200 lopies darem op die telbord gepryk het.

De Villiers het sy kolfbeurt versigtig begin en eers met sy 16de bal ʼn grenshou geslaan en toe 12 balle later sy tweede. Daarna het hy losgetrek. Hy het twee viere en drie sesse in sy kolfbeurt geslaan.

De Villiers se pragbeurt is ondersteun deur goeie vertonings van die aanvangskolwer Reeza Hendricks (41 van 34 balle) en die spraaksame paaltjiewagter, Mangaliso Mosehle, wat 32 lopies in 15 balle aangeteken het. Hy het in die laaste boulbeurt drie van die eerste vier balle oor die tou vir sesse geslaan.

Die speler van die wedstryd was Niroshan Dickwella, Sri Lanka se aanvangskolwer, wat 68 van 51 balle aangeteken het. Hy is ook aangewys as speler van die reeks.

Maar die speler wat Woensdagaand vir Sri Lanka se oorwinning gesorg het, was ongetwyfeld Seekkuge Prasana wat 37 van net 16 balle aangeteken het. Dit het drie grenshoue en drie sesse ingesluit en die onervare Suid-Afrikaanse boulers kon hom teen die einde eenvoudig nie aan bande lê nie.

Suid-Afrika het ʼn rampspoedige tyd in die veld gehad. Nie net is Lungi Ngidi, die speerpunt van die  boulaanval, met ʼn beseerde heup van die veld af nie, maar die Proteas het boonop ses vangkanse verbrou.

In Suid-Afrika se sesde boulbeurt was daar ʼn “driekuns” en is drie vangskote in drie balle laat val. Die ongelukkige bouler was Wayne Parnell wat selfs die derde vangkans nie kon benut nie.

Imran Tahir het die beste van die Proteas se boulers gevaar. Hy het met ʼn groot gejuig van die volgepakte Nuweland 3/18 geneem.

Die grootste vreugde het egter van die Sri Lankane gekom wat ná die vernederende toetsreeks  darem die T20-reeks gewen en ʼn trofee het om huis toe te neem.

♦  Die fokus verskuif nou na die eendagreeks wat Saterdag (10:00) in Port Elizabeth begin. Sri Lanka se oorwinning in die T20-reeks sal hulle baie selfvertroue vir die reeks gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jack Russl ·

Ek dink hulle kan gerus die spelers se bank rekeninge dophou. Daar mag dalk ‘n paar snaakse deposito’s opduik.

Ek wonder net wat ons kaptein die keer gaan blameer. Vorige wedstryd was dit die kolfblad, so asof ons op ‘n ander blad gespeel het as SL

Frans C ·

En sou kon Suid Afrika se saamgeflanste elftal nie, die mas op kom nie. Alhoewel Parnell ongelukkig was dat die veldwerkers nie die vangskote van sy boulwerk kon benut nie,was sy boulwerk nie goed nie en het sy een duur boulbourt bygedra tot SL se oorwinning.

Pietser ·

Parnell het die vermoe om paaltjies te neem maar hy is hopeloos te duur. Sy laaste boulbeurt was definitief die begin van die einde. Ons veldwerk was ook swak. As AB nie gespeel het nie sou SL nog makliker gewen het.

Pietser ·

Eintlik ‘n skande om teen so ‘n swak span te verloor maar dis wat jy kry wanneer jy elke jan rap en sy maat ‘n kans wil gee in nasionale kleure. Die rekordboeke is geskryf, SA verloor T20 reeks teen SL op ele bodem.

Fluffie ·

Die doel van die keurders was om SA se reserwekrag in T20 te toets. Dit was nie die sterkste moontlike span nie maar daar was wel ‘n paar manne wat hul hand kon opsteek en wat aan die einde van die dag die T20 se wereldbekergroep kan versterk. Ek dink ons het hierdie proefnemings nodig gehad. Daar moet soos duidelik blyk uit blapse in die veld aandag gegee word aan veldwerk.

Koos1 ·

Hoe minder oor die veldwerk gesê word, hoe beter. My vrou, kinders en bure het gisteraand ‘n rits nuwe woorde by my geleer, en ek is skaam om dit vandag te erken! Sorry julle, maar enige persoon wat die wedstryd gekyk het sal presies weet waarvan ek praat.

Pieter ·

Koos1 so ek is nie al een wat vir my gesin nuwe woorde geleer het nie!!!! :-) :-(

Jack Russl ·

Daar is verseker ‘n hele paar van ons

Daardie tipe spel is totaal onaanvaarbaar. Selfs laerskool krieket sou van daardie balle vang

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.