SA skeidsregter in beheer van As-toetse

Marais Erasmus. Foto: Cricinfo.

Suid-Afrika se Marais Erasmus en Sri Lanka se Kumar Dharmasena sal die skeidsregters vir die laaste twee toetse in die Reeks om die As in Engeland wees.

Hulle sal vir Wes-Indië se Joel Wilson en Nieu-Seeland se Chris Gaffaney vervang wat elkeen in twee van die eerste drie toetse in die middel gestaan het. Pakistan se Aleem Dar was ook deel van die aksie.

Dié opwindende reeks is tans gelyk (1-1) ná drie toetse. Australië het die eerste toets op Edgbaston oortuigend met 251 lopies gewen, waarna ’n tikkie Ben Stokes-toorkuns vir ’n skitterende Engelse sege van net een paaltjie op Headingley gesorg het.

Stokes en Australië se Steve Smith is tot dusver die beste spelers in die reeks, maar dit is die blitsige Jofra Archer wat gewys het dat toetskrieket inderdaad dié prima-formaat van die spel is.

Archer se kartetse het verwoesting onder die Aussie-kolwers gesaai en sy vurige boulwerk teen Steve Smith op Lord’s het gesorg dat die Aussie-ster die derde toets weens harsingskudding misgeloop het. Op Headingley het Archer ook sy stem dik gemaak deur 6/45 in die eerste beurt te neem.

Die vierde toets begin volgende Woensdag op Old Trafford en Marais-hulle sal deur Ruchira Palliyaguruge (televisieskeidsregter) bygestaan word.

  • Die 55-jarige Erasmus was in sy speeldae ’n veelsydige speler vir die Boland gewees en hy het sy internasionale skeidsregterdebuut in 2007 gemaak toe Kenia vir Kanada in Nairobi gepak het.
  • Sy toetsdebuut was op 17 Januarie 2010 toe Indië teen Bangladesj gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JK ·

Uiteindelik. Kumar is ook nou nie die beste nie, maar sjo kerels, die vorige toets was belaglik, 9/13 beslissings van Joël omgekeer…

Rupert Ashford ·

Baie geluk en ook baie sterkte aan Mnr Erasmus. Hierdie is hoogspanning…

Therese ·

Marais Erasmus se gesellige figuur is net só gerusstellend daar in die middel!
Was hy maar daar met die vorige toets dan het die Aussies beslis gewen, want hy ken bvp wanneer hy dit sien. Ai!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.