SA snelarsenaal verinneweer Indië op vinnige Wanderers

Vernon Philander (Foto: Facebook Vernon Philander – Cricket Shots)

Die Proteas se snelarsenaal het Indië op die eerste dag van die derde toets op ʼn groen Wanderers kolfblad uitmekaar geboul met Indië wat darem die troos van ʼn vinnige Suid-Afrikaanse paaltjie gekry het.

Indië het sy laaste ses paaltjies vir net 43 lopies verloor en is almal vir 187 deur Suid-Afrika se vyftal naat- en swaaiboulers uitgehaal, met elkeen wat ʼn goeie bydrae tot die toeriste se kolftreurmare bygedra het.

KG Rabada (drie paaltjies), Morné Morkel, Vernon Philander, Andile Phehlukwayo (twee paaltjies elk) en Lungi Ngidi (een paaltjie) het almal met goeie beheer geboul en daar was aggressie van die vinniger manne wat te veel vir Indië was.

Aiden Markram (2) is in die derde boulbeurt uitgehaal en Rabada sal Donderdag saam met Dean Elgar op 6/1 kom voortkolf.

Daar het 11 paaltjies in 83 beurte op die eerste dag vir net 193 lopies getuimel. Nie een van die twee spanne het ʼn draaibouler ingesluit nie, en Phehlukwayo is deur die Proteas in die plek van Keshav Maharaj gekies.

Die besluit om eerste te kolf, het vir Indië geboemerang. Hulle was deurentyd met die rug teen die muur nadat albei aanvangskolwers reeds op 13 uit was.

Net Virat Kohli (54) en Cheteshwar Pujara (50) het daarna enigsins soos toetskolwers gewerk en 84 lopies in 34 beurte aangeteken. Pujara het eers met die 54ste bal wat na hom  geboul is, sy eerste lopies behaal.

Die naam van die nommer 8-kolwer Bhuvneshwar Kumar, wat met slaanwerk 30 van die laaste 43 lopies aangeteken het en die enigste ander kolwer met dubbelsyfers was, kan seker ook genoem word.

Die dag se veldwerk was nie naastenby van Protea-gehalte nie, maar tog goed genoeg om die toeriste tot 45/2 met etenstyd (27 beurte) en die lopietempo vir die beurt tot 2,42 te beperk.

♦  Die vaart waarmee Markram in toetskrieket met sy pragtige beurte en gemiddelde teen Bangladesj en Zimbabwe weggespring het, is effens gehalt deur die veel sterker boulaanval van die Indiërs.

Daar moet egter nie te gou geoordeel word nie, want die jong Markram het tot dusver die hoogste telling, 94, teen die toerspan en ook ʼn baie goeie 34 aangeteken.

Die verwagting is dat die vinnige kolfblad, natuurlik binne perke, sy aard sal behou. Dit beteken dat die Proteas, tans in beheer, met die nodige toetskonsentrasie sal moet kolf en dat daar meer op die telbord sal verskyn as net ʼn goeie vennootskap van Faf du Plessis en AB de Villiers.

Vir die volledige telkaart en ander statistiek en inligting, klik op die skakel 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

PitchReport ·

Een van die swakste blaaie wat nog voorberei is op Wanderers.

RB ·

Dit is dalk ‘n bietjie te veel. Waarskynlik agv Centurion wat so swak was na die ander kant van die spektrum. Maar, ek verkies dit enige dag bo ‘n blad waar almal lopies kry en dan is die wedstryd na 5-dae nog onbeslis. Hierdie tipe wedstryde is opwindend, en op die einde van die dag kan geen profesionele sport bestaan sonder mense wat dit wil ondersteun nie.

PitchReport ·

@RB, n toets is n toets vir n rede, nie n 2/3 dag game nie. Tot in dag 5 is die meesopwindendste krieket, wel vir die ware krieket ondersteuners, niks van hierdie kitskrieket nie.

Nolis ·

n “baie goeie 34” volgende is seker n baie goeie 28, baie goeie 15. Kyk na A.Cook, dis hoe mens open. Net jammer Markram het so n oneerlike partner, Elgar. Elgar sal nooit uit goeie sportmangees loop nie, al talle kere gebeur.

Anoniem ·

Hulle het onderskeidelik ” ‘n baie goeie 2″ en hard verdiende 4 aangeteken.

Anoniem ·

Hulle kan nog die verbroude vangkanse berou, want hulle is nog geensins in beheer van die wedstryd nie. Op internasionale vlak is sulke verbroude kanse onverskoonbaar. Ons veldwerk het die laaste paar jaar sleg agteruit gegaan.

Pieter ·

Kan Phillander ASB ook sy hemp insteek soos die ander 10 spelers, lyk slordig op die veld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.