SA soek ses paaltjies vir reekssege

Quinton de Kock in aksie. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Quinton de Kock in aksie. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Sri Lanka se toporde was Woensdag, op die derde dag van die tweede toets op Nuweland, weer nie teen Suid-Afrika se boulaanval bestand nie en die toets behoort redelik vroeg Donderdag verby te wees.

Teen uitskeityd Woensdag het die besoekers 130/4 op die telbord gehad, ʼn agterstand van 376 lopies nadat die Proteas se kaptein, Faf du Plessis, sy span se beurt Woensdagmiddag sowat 45 minute voor teetyd gesluit verklaar het.

Dit het aan die Proteas ʼn voorsprong van 506 lopies gegee, nadat hulle die dag met ʼn voorsprong van 317 lopies begin het.

Sri Lanka, wat die onbegonne taak van 507 lopies vir ʼn oorwinning of sowat 220 boulbeurte vir ʼn onbesliste uitslag gelaat is, het sleg weggespring. Dimuth Karunaratne se wegpen het letterlik deur die lug getrek toe hy vir ses deur Vernon Philander geboul is en die hoogaangeskrewe jongeling, Kusal Mendis, het net 12 balle gehou voordat Philander hom agter die penne laat uitvang het.

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Kaushal Silva (29) en Dhananjaya de Silva (21) was albei slagoffers van Kagiso Rabada en op 69/4 het dit gelyk asof die Sri Lankane handdoek ingegooi het.

Maar dit was nie so maklik nie. Sri Lanka se kaptein, Angelo Mathews (29 nun) en Dinesh Chandimal (28 nun) het met groot konsentrasie die telling tot 130/4 gevoer. Oorgee gaan hulle beslis nie, maar op ʼn uitstekende toetskolfblad sal daar Donderdag steeds hulp vir die boulers wees – en tesame met die lang kolfstert van Sri Lanka, kan die wedstryd selfs voor etenstyd iets van die verlede wees.

♦  Suid-Afrika se beurt was ietwat van ʼn antiklimaks. Met hul groot eerstebeurt-voorsprong was daar weinig dringendheid te bespeur, totdat Quinton de Kock met 29 lopies in 24 balle kom kolf het.

Dit is asof die erns van toetskrieket ontbreek het teen die Sri Lanka-aanval, wat moontlik hul beste voet in die reeks voor gesit het. Sumara Lakmal (4/69) het veral weer beïndruk.

Dean Elgar. Foto:  AP Photo/Schalk van Zuydam

Dean Elgar. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Dean Elgar (55) het met meer vryheid as gewoonlik gekolf en saam met Stephen Cook (30), wat met sy gewone konsentrasie gekolf het, het hy 64 om die eerste paaltjie daargestel, teen ʼn raps meer as drie lopies per boulbeurt.

Hashim Amla is na sy afgelope tien kolfbeurtbeurte steeds sonder ʼn vyftigtal nadat hy van sy vyfde bal vir nul uitgevang is, JP Duminy het 30 lopies sonder enige noemenswaardige eienskappe aangeteken en die arme Temba Bavuma is vir nul uitgehardloop toe hy betyds oor die kolfkampie-streep geduik het, maar sonder dat hy of sy kolf agter die streep op die grond was.

Dit was ʼn tweede ongelukkige manier in vier beurte om uit te gaan. Bavuma het in die eerste toets gestap sonder dat hy die bal geraak of deur die skeidsregter uitgegee is. Hy het nou in sy laaste vier beurte 21 lopies aangeteken.

Toe Bavuma op 137/5 uit is, was die lopietempo ʼn raps meer as 3,5.

Faf du Plessis het ʼn stewige 41 (in 49 balle) aangeteken en saam met De Kock 33 in 32 balle daargestel voordat Philander (15 nun) en Keshav Maharaj

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

(20 nun) met die vryheid gespeel het wat stertkantkolwers verwelkom en in 31 balle 32 lopies bygevoeg het om die algehele kolftempo na 4,29 op te skuif.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika (eerste beurt): 392 (Kolwers: Stephen Cook 0, Dean Elgar 129, Hashim Amla 29, JP Duminy 0, Faf du Plessis 38, Temba Bavuma 10, Quinton de Kock 101, Kyle Abbott 16, Vernon Philander 20, Keshav Maharah 32*, Kagiso Rabada 8. Boulers: Lahiru Kumara 6/122, Sumara Lakmal 2/93, Rangana Herath 2/57)

Sri Lanka (eerste beurt): 110 (Kolwers: Dimuth Karunaratne 24, Upul Tharanga 26*, Dhananjaya de Silva 16. Boulers: Vernon Philander 4/27, Kagiso Rabada 4/37, Keshav Maharaj 2/32, Kyle Abbott 0/9)

Suid-Afrika (tweede beurt): 224/7 verklaar (Kolwers: Stephen Cook 30 , Dean Elgar 55, Hashim Amla 0, JP Duminy 30, Temba Bavuma 0, Keshav Maharaj 20*, Vernon Philander 15*. Boulers: Sumara Lakmal 4/69, Lahiru Kumara 1/62, Rangana Herath 1/32)

Sri Lanka (tweede beurt): 130/4 (Kolwers: Dimuth Karunaratne 6, Kaushal Silva (29), Dhananjaya de Silva 210, Kusal Mendis 4, Angelo Mathews 28*, Dinsh Chandimal 29* Boulers: Vernon Philander 2/34, Kagiso Rabada 2/22)

Suid-Afrika is 376 lopies voor met ses tweedebeurt-paaltjies van Sri Lanka staande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.