SA stewig geplaas in tweede kriekettoets

Quinton de Kock verlaat die veld. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Quinton de Kock verlaat die veld. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Suid-Afrika is stewig in die saal ná die derde dag se spel Maandag in die tweede kriekettoets teen Australië in Hobart in Tasmanië. Hulle is nou 120 lopies voor in die eerste beurt maar die Aussies veg terug met 121/2 in hulle tweede kolfbeurt.

Die Proteas het hul kolfbeurt hervat met Quinton de Kock (28) en Temba Bavuma (38) voor die paaltjies en die telling op 171/5. Die twee was vir 46 boulbeurte saam vir ʼn baie waardevolle vennootskap van 144 voordat De Kock met sy telling op 104 deur Josh Hazlewood uitgehaal is.

Die telling was toe 276/6.  Dit was Quinton de Kock se tweede toetshonderdtal en die vyfde keer wat hy meer as 50 aanteken.

Die volgende paaltjie, net ná ete, was dié van Bavuma wat 74 van 204 balle aangeteken het. Keshav Maharaj (1) en Kyle Abbott (3) het nie lank gehou nie en die laaste paaltjie was dié van Vernon Philander ná ʼn goeie, vinnige 32 van net 28 balle.

Philander se waarde in die Proteas se span as ʼn veelsydige speler word al hoe meer bevestig.

Suid-Afrika se totaal van 326 lopies het aan hulle ʼn voorsprong van 241 lopies in die eerste beurt besorg.

Josh Hazlewood  het baie goed geboul en ses paaltjies vir 89 van 30,5 boulbeurte geneem en Starc het self drie slagoffers geëis.

♦  In Australië se tweede beurt is Joe Burns (0) in die eerste boulbeurt uit danksy Abbott se flink boulwerk.

Usman Khawaja en Dave Warner het daarna vasgeskop en goed gekolf.  Warner, met sy telling op 45, is in die 22ste boulbeurt uit nadat Abbott se aflewering hom op die heup getref het en die bal van sy been en elmboog teen die paaltjies afgespat het. Die telling was toe 79/2.

♦  Daar was ʼn kort onderbreking weens ligte reën, maar swak lig het uiteindelik die spel vroeër laat ophou. As die weer saamspeel is daar nog twee volle dae se krieket oor. Met uitskeityd was die Aussies op 121/2, nog 120 lopies agter die Proteas – en die kolfblad het nog steeds heelwat lewe en daar is nog vog in die lug. ʼn Uitslag is dus ʼn sterk moontlikheid.

♦  Khawaja (56) en Steve Smith (18) sal die Aussies se tweede beurt Dinsdag, die vierde dag, hervat.

Opgesomde telkaart, Dag 1

Australië (eerste beurt) 85 (Kolwers: Steve Smith 48*, Joe Mennie 10, Boulers: Vernon Philander 5/21, Kyle Abbott 3/41, Kagiso Rabada 1/20.)

Suid-Afrika (eerste beurt) 326 (Kolwers: Stephen Cook 23, Dean Elgar 17, Hashim Amla 47, JP Duminy 1, Faf du Plessis 7, Temba Bavuma 74, Quintin de Kock 104, Vernon Philander 32. Boulers: Mitchell Starc 3/79, Josh Hazlewood 6/89, Joe Mennie 1/85 )

Australië (tweede beurt) 121/2: Kolwers: David Warner 45, Usman Khawaja 56*, Steve Smith 18*. Boulers: Kyle Abbot 2/55, Vernon Philander 0/28, Kagiso Rabada 0/19)

Suid-Afrika is ná die derde dag se spel in die tweede toets 120 lopies voor met agt van Australië se tweedebeurt-paaltjies wat nog staande is. Die Proteas se tweede beurt lê nog voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.