SA swaai die septer tot Cummins toeslaan

Pat Cummins tydens die Derde Kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië (22 Maart 2018). Foto: Reuters/Mike Hutchings

Die Derde Kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië het vandag op Nuweland in Kaapstad begin. Die Proteas het die eerste twee sessies oorheers, maar die derde skof het aan die Aussies behoort. Die Proteas het toe 6 paaltjies vir net 37 lopies verloor. Teen uitskeityd was die Proteas op 266/8.

Dean Elgar was die steunpilaar van die Proteas se kolfbeurt terwyl Pat Cummins met die bal vir Australië geskitter het.

Suid-Afrika het vir Temba Bavuma (vir Theunis de Bruyn) en Morne Morkel (vir Lungi Ngidi) ingesluit in hul span, terwyl die Aussies se span onveranderd gelaat is. Die belangrike loot is deur Suid-Afrika se Faf du Plessis gewen wat besluit het sy span sal kolf.

Teen middagete was die Proteas op 75/1 met Markram wat reeds vroeg uit was vir ʼn nulletjie.

Dean Elgar en Hashim Amla het in die middagskof die telling tot by 92/2 geneem toe Hashim Amla vir 31 lopies moes terugstap. AB en DE (Dean Elgar) het die lopie-tempo opgestoot na meer as drie lopies per boulbeurt en 110 lopies is in die middagskof aangeteken.

Met die aanbreek van teetyd was die Proteas op 185/2 (55 bb). Elgar was op 91 en de Villiers op 46.

Tydens die derde skof van die dag het Dean Elgar sy elfde toets 100-tal (16 x 4 en 1 x 6) van sy loopbaan behaal en AB de Villiers het ook sy vier-en-veertigste toets 50-tal op die telbord geplaas. Die paaltjies het egter begin tuimel met die Aussie-boulers wat die ou bal weer goed gebruik het en veral Cummins het in sy vierde skof die kollig gesteel met vier paaltjies vir net twaalf lopies.

AB is uit vir 64 met die totaal op 220/3. Sy vennootskap saam met Elgar was 128 lopies. Faf du Plessis het nie lank gehou nie en moes terugstap vir 5, Bavuma is uit vir net 1 lopie, Quinton de Kock vir 3, Vernon Philander vir 8 en Maharaj vir 3.

Teen uitskeityd was die Proteas op 266/8 (87 bb). Elgar was nie uit nie op 121 en Rabada op 6.

Nuweland se kolfblad was relatief mak tydens die eerste twee sessies en slegs enkele aflewerings het ekstra wip getoon. Cummins het egter later gewys die kolfblad gaan nog sorg vir tierlantyntjies. Die Aussies het die eerste toets gewen en die Proteas die tweede toets.

Spel is geskeduleer om Vrydag om 10:30 te begin.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Faf doen baie sleg op die oomblik. Dalk moet hulle sy kapteinskap wegvat dat hy weer op sy kolf werk kan konsentreer. Anders moet hulle hom vervang.

JS ·

Ek stem Nico, dink de Kock moet ook bietjie gedrop word en Heinrich n kans gee. Faf moet weer fokus op die spel kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.