SA’ners doen hul deel, maar Mumbai verloor

Dewald Brevis het 46 lopies vir die Mumbai Indians aangeteken. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Dewald Brevis en Gerald Coetzee kan tevrede voel met hul vertoning in die Mumbai Indians se eerste wedstryd van die jongste weergawe van die Indiese Premierliga (IPL), maar hul span het nogtans met ses lopies teen die Gujarat Titans verloor.

Die opwindende Coetzee het die paaltjies van Azmatullah Omarzai en Rahul Tewatia geneem om met ʼn boulontleding van 2/27 in sy IPL-buiging te spog.

David Miller kon net 12 lopies aanteken en die Titans is tot 168/6 in sy toegelate 20 boulbeurte beperk.

Mumbai was goed op koers met Rohit Sharma en Brevis voor die paaltjies.

Die twee kolwers het ʼn vennootskap van 77 lopies om die derde paaltjie geniet voordat die ervare Sharma sy paaltjie verloor het.

Brevis het onder meer drie sesse in sy beurt van 46 lopies van 38 aflewerings geslaan, maar hy het sy paaltjie op die verkeerde tyd verloor toe Mohit Sharma hom van sy eie boulwerk uitgevang het.

Om dinge vinnig in perspektief te plaas: Met Sharma en Brevis voor die paaltjies het Mumbai 48 lopies van 36 balle vir ʼn gemaklike oorwinning benodig.

Volgens kommentators het 90 000 toeskouers die aksie in Ahmedabad dopgehou.

  • Opsomming van die telkaart:

Gujarat Titans 168/6 in 20 boulbeurte: Sai Sudharsan 45, Jasprit Bumrah 3/14 en Gerald Coetzee 2/27.

Mumbai Indians 162/9 in 20 boulbeurte: Dewald Brevis 46, Rohit Sharma 43 en Spencer Johnson 2/25.

  • In ʼn vorige wedstryd het Heinrich Klaasen weer eens sy status as een van die gevaarlikste kolwers op die internasionale verhoog onderstreep toe hy 63 lopies van slegs 29 balle vir die Sunrisers Hyderabad teen die Kolkata Knight Riders gemoker het.

Die Sunrisers het weliswaar die kragmeting met vier lopies op Eden Gardens verloor, maar die Suid-Afrikaner het agt sesse in sy warrelwindbeurt gemoker.

Soos wat Kevin Pietersen heel tereg gedurende die SA20-toernooi gesê het: Daar is waarskynlik tans nie ʼn beter T20-kolwer in die wêreld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.