SA’ners kan van Bangladesj gedugte teenstanders maak

Albie Morkel. Foto: GB Jordaan. 

In sy speeldae was Albie Morkel een van die gevaarlikste veelsydige spelers op die internasionale krieketverhoog.

In ’n loopbaan van byna twee dekades het hy onder meer krieket in Engeland en Indië gespeel. Sy verwoestende kolfwerk en slim mediumvinnige aflewerings het van hom ’n gunsteling in T20-krieket gemaak en hy was gewild in Indië, waar hy onder meer vir die Chennai Super Kings, Rising Pune Supergiants en die Delhi Daredevils gespeel het.

Ná sy uittrede het hy as afrigter ’n beduidende rol in Namibië se suksesverhaal by verlede jaar se T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel.

Die Namibiërs het onder meer vir Skotland met vier paaltjies geklop, terwyl hulle op ’n stadium selfs bo Indië op die punteleer was.

Nou het Bangladesj die 40-jarige oudspeler as kolfwerkkonsultant vir die span se toer na Suid-Afrika nadergetrek.

Morkel sal veral die besoekers met hul aggressiewe kolfwerk bystaan.

“Ons het hierdie aanstelling op ’n korttermynbasis gedoen. Albie was beskikbaar en ons het gedink dat ’n paar sessies saam met hom ons kolwers kan help,” het Nizamuddin Chowdhury, hoof van Bangladesj se krieketraad, aan AFP gesê.

“Vier tot vyf sessies sal waarskynlik nie veel van ’n verskil maak nie, maar ons sal sien of dit van waarde is.”

Bangladesj word deur die voormalige Protea-breier, Russell Domingo, afgerig terwyl Allan Donald onlangs as die span se snelboulbreier aangewys is.

“Ek is ongelooflik opgewonde om deel van die Bangladesj-opset vir die volgende nege maande te wees. Dit is wonderlik om weer terug op die internasionale verhoog te wees en saam met talentvolle snelboulers te werk,” het Donald gesê.

Die eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Bangladesj begin Vrydag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.