SA’ners tel onder bestes in nuwe krieketreeks

Quinton de Kock lewer tans skittervertonings. Foto: Randy Brooks/AFP.

Die eerste weergawe van The Hundred-kriekettoernooi is iets van die verlede en die Southern Brave het vir die Birmingham Phoenix met 32 lopies in die eindstryd geklop.

Paul Stirling het die lang steel behoorlik ingelê en hy het 61 lopies van slegs 36 aflewerings vir die Brave gemoker.

Hoewel Suid-Afrika se Quinton de Kock vroeg in die eindstryd deur die Phoenix uitgehaal is, is hy steeds in Cricinfo en Wisden (twee gesaghebbende krieketpublikasies) se spanne van die toernooi opgeneem.

Die 28-jarige Suid-Afrikaner het 202 lopies in die reeks teen ’n gemiddeld van 33,66 en ’n treftempo van 172,64 geslaan.  Daarbenewens het hy ook 11 kolwers uitgevang en een stonkkans benut.

“De Kock het gereeld die bal aan die rol vir die Brave in hul kolfbeurte gesit en al is hy vroeg in die uitklopwedstryde uitgehaal, het hy vyftigtalle in baie belangrike groepwedstryde geslaan. Daarbenewens het hy met tye soos ’n wafferse genie agter die paaltjies te kere gegaan,” het Cricinfo geskryf.

Dan meen Wisden dat De Kock sommer uit die staanspoor vir die nodige flair gesorg het – hy het reeds in sy eerste beurt 21 blitsige lopies geslaan.

In die vroue-afdeling het Cricinfo vir Dane van Niekerk geloof.

Suid-Afrika se vrouekrieketkaptein het 259 lopies teen ’n gemiddeld van 43,16 geslaan, terwyl sy ook agt paaltjies geneem het. Dan het haar Invincibles-span ook met die uiteindelike louere in die reeks weggestap.

“Dane het die Invincibles deur haar voorbeeld op die veld gelei en die span het die vrugte van haar aanvallende kapteinskap in die eindstryd gepluk.”

Nóg ’n Suid-Afrikaner, Marizanne Kapp, spog met boulsyfers van 4/9 in die eindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack Russ1

Marchant de Lange het 12 paaltjies gevat, insluitend 5 vir 20, en Tahir 10

Lizelle lee het in 2 minder beurte as Dane 215 lopies aangeteken

Marizanne Kapp het 11 paaltjies gevat in net 5 wedstryde, beste gemiddeld, mees ekomoniese en beste strike rate tussen die bowlers net 15+ boulbeurte