SA’ners vertoon goed in IPL

Quinton de Kock het vandag 67 lopies vir die Mumbai Indians geslaan. Foto: Twitter.

Die Proteas se witbalkrieket-kaptein, Quinton de Kock, het vandag sy eerste vyftigtal van die huidige IPL-toernooi geslaan.

Die veglustige paaltjiewagter se 67 van slegs 39 aflewerings het agt grenshoue, waaronder vier sesse, ingesluit en hy het saam met Kieron Pollard (25 van 13 balle) en Krunal Pandya (20 van vier balle) gesorg dat die Mumbai Indians 208/5 teen die Sunrisers Hyderabad aangeteken het.

De Kock handhaaf ’n gemiddeld van 23 ná vyf kolfbeurte, maar sy Suid-Afrikaanse spanmaats vaar glad nie sleg met die wilgerlat nie.

Faf du Plessis, wat vir die Chennai Super Kings speel, is tans die derde voorste lopiemaker in die toernooi. In sy vier wedstryde het hy reeds 195 lopies teen ’n gemiddeld van 65 en ’n treftempo van 144,44 geslaan.

AB de Villiers. Foto: Twitter.

AB de Villiers het Indiese krieketondersteuners ook weer gaande. Hy het onlangs vir Jasprit Bumrah, een van die wêreld se voorste T20-boulers, verrinneweer om 55 vinnige lopies aan te teken.

In sy vier wedstryde het hy 146 lopies teen ’n gemiddeld van 73 en ’n spoggerige treftempo van 178,04 gemoker.

Op die boulfront is Kagiso Rabada tans aan die brand vir die Delhi Capitals. Die Suid-Afrikaanse snelbouler het tot dusver agt paaltjies in die toernooi teen ’n gemiddeld van 15,75 geneem.

Anrich Nortjé vaar ook goed vir die Capitals en hy het vyf paaltjies in sy vier wedstryde geneem.

  • In Engeland het Hashim Amla ook die horlosie teruggedraai om met ’n paar flink beurte vir Surrey in die Vitality Blast-reeks te slaan.

Die 37-jarige Amla het reeds 268 lopies in die reeks geslaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae