Ses, vier en wen!

Ravindra Jadeja het ’n ses en ’n vier van die laaste aflewerings van die wedstryd geslaan. (Foto: Twitter/IPL)

Arme Mohit Sharma.

Die Gujarat Titans-bouler het met ʼn uitstekende finale boulbeurt in die eindstryd van die Indiese Premierliga vorendag gekom.

Hy het net ná 01:00 streepbal na streepbal afgestuur; tot en met sy vyfde en sesde aflewerings, natuurlik.

Die Chennai Super Kings se Ravindra Jadeja het toe ʼn ses en ʼn vier gemoker om ʼn aksiebelaaide wedstryd vir sy span te beklink.

Die Super Kings het die kragmeting met vyf paaltjies gewen nadat reën weer eens ʼn invloed op die spel gehad het. Hulle het nou al vyf keer met die IPL-louere weggestap.

Terwyl sy spanmaats opgewonde op die veld gehardloop het om Jadeja ʼn welverdiende klop op die skouer te gee, het MS Dhoni eers vir ʼn rukkie stil gesit en net alles ingeneem.

Op 41-jarige ouderdom het baie ondersteuners gedink dat dit die voormalige Indiese kaptein se laaste IPL-wedstryd sou wees. Hy het egter die deur ʼn skrefie oopgelos om vir oulaas in die geel van Chennai te speel.

“Dit sou baie maklik vir my gewees het om nou almal te bedank en uit te tree. Die moeiliker roete is om vir die volgende nege maande hard te werk en dan vir oulaas in die IPL te speel. My lyf moet dit net kan hanteer. Maar die Chennai-ondersteuners het deur dik en dun by my gestaan en ʼn laaste seisoen sal my geskenk aan hulle wees,” het Dhoni gesê.

Die Proteas se David Miller het nie ʼn kolfkans in die Titans se beurt gekry nie, maar hy het nogtans vir Dhoni van Sharma se boulwerk uitgevang.

Daarteenoor het die Suid-Afrikaans gebore Devon Conway ʼn speler van die wedstryd-vertoning gelewer toe hy met sy 47 lopies die grondslag vir die suksesvolle Super Kings-lopiejaagtog gelê het.

  • Opsomming van telkaart:

Gujarat Titans 214/4 in 20 boulbeurte: Sai Sudharsan 96, Wriddhiman Saha 54 en Matheesha Pathirana 2/44.

Chennai Super Kings 171/5 in 15 boulbeurte: Devon Conway 47, Shivam Dube 32 en Mohit Sharma 3/36.

Uitslag: CSK wen met vyf paaltjies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.