Sewe op ’n streep vir Proteas!

Quinton de Kock en Reeza Hendricks het gister met ’n onoorwonne vennootskap van 121 lopies vorendag gekom om die wedstryd binne 15 boulbeurte te wen. Foto: Ishara S. Kodikara/AFP.

In T20-krieket lyk dit of die Proteas met ’n wenresep vorendag gekom het: Kies ’n magdom draaiers om paaltjies te neem en die lopiekrane toe te draai en bid dat die handjievol kolwers dan genoeg lopies sal slaan om die wedstryd te beklink.

Mark Boucher se span het gister vir Sri Lanka met tien paaltjies geklop om die reeks met 3-0 te wen. Dit is die Proteas se derde agtereenvolgende reeksoorwinning (nadat hulle ook vroeër met die Wes-Indiese Eilande en Ierland afgereken het), terwyl hulle nou ook sewe kitskrieketwedstryde agtereenvolgens gewen het.

Dit was weliswaar die Proteas se laaste internasionale wedstryd vóór hul Wêreldbeker-veldtog op 23 Oktober teen Australië begin, maar ’n groterige groep spelers sal deel van die Indiese Premierliga-aksie wees.

Spelers soos Quinton de Kock, David Miller, Lungi Ngidi, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Aiden Markram sal waardevolle inligting oor die speeltoestande in die Verenigde Arabiese Emirate kan verskaf; die IPL word immers in dieselfde stadions as die Wêreldbeker-toernooi beslis.

“Ons het met ons IPL-spelers gepraat en hulle is bewus van die erns van die saak: Dit is belangrik dat hulle gedissiplineerd sal bly en besef dat ons as span op die regte tyd ons beste krieket sal moet speel,” het Boucher gesê.

Maar ná die T20-reeks teen Sri Lanka het Protea-ondersteuners ’n paar dinge wyser geword.

Aiden Markram se boulwerk het ook tot Suid-Afrika se sukses bygedra.  Foto: Phill Magakoe/AFP.

Eerstens beskik Suid-Afrika oor draaiers wat T20-wedstryde kan wen. Bjorn Fortuin (vyf paaltjies teen 11,40), Aiden Markram (vier paaltjies teen 6,25), Tabraiz Shamsi (vier paaltjies teen 16,75) en Keshav Maharaj (drie paaltjies teen 14,33) tel onder die beste boulers in die reeks.

Voeg daarby die vuur en aggressie van ’n Rabada of ’n Nortjé en jy sit met ’n gedugte bouleenheid.

Ja, die Protea-kolflys (met Keshav Maharaj op nommer sewe) gaan waarskynlik nie sommer ’n telling van 180 of 190 opstapel nie, maar die boulers maak lopiejaagtogte aansienlik makliker.

As Quinton de Kock lopies kry, is die kans oudergewoonte aansienlik groter dat die Proteas die wedstryd sal wen.

Die 28-jarige paaltjiewagter speel tans uitstekende krieket en hy was weer eens die Proteas se beste kolwer: Hy het sy lopies teen ’n gemiddeld van 153 en ’n treftempo van 121 geslaan.

Hy is egter goed deur Reeza Hendricks en Markram bygestaan.

Of hierdie resep teen ander (sterker) spanne sal werk, is egter ’n ope vraag. Die Proteas sal ook aan hul veldwerkvaardighede moet werk.

Die Suid-Afrikaners het vyf vangskote in die eerste wedstryd verbrou, terwyl hulle gister ook ’n paar blapse in die veld gemaak het.

Maar in die moeilike tye waarin Suid-Afrikaanse krieket hom tans bevind, kan ’n mens beslis oor nóg ’n T20-reeksoorwinning glimlag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.