Shane Warne veil geliefde Baggy Green op om brandslagoffers te help

Shane Warne met sy Baggy Green-pet. Foto: Twitter.

Waarskynlik die beste bouler wat krieket nóg opgelewer het, die Aussie Shane Warne, doen ook sy deel om slagoffers van Australië se verwoestende brande by te staan.

Sowat 200 veldbrande woed tans in die land met tienduisende mense wat kusdorpe inderhaas moes verlaat het. Meer as 1 200 huise is reeds in puin gelê.

Maroela Media het vroeër berig minstens 23 mense is dood sedert die eerste brande in September verlede jaar uitgebreek het.

Stuart Branch van die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) het aan Sky News gesê ’n miljard diere kan moontlik in die verwoestende brande omkom, met talle wat selfs ná die brande geblus is in die komende weke sal doodgaan. Dit sluit soogdiere, voëls, reptiele, vlermuise en insekte in.

Warne, wat 708 toetspaaltjies vir Australië geneem het en soos ’n wafferse kulkunstenaars vir internasionale kolwers ’n rat voor die kon draai, het besluit om sy geliefde Baggy Green-pet op te veil om slagoffers by te staan.

“Mens kyk half in ongeloof na die verwoestende brande wat tans hier woed. Die impak wat dit op duisende mense se lewens het, het ons almal aangeraak: Lewens is verloor, huise is in puin gelaat en meer as 500 miljoen diere is reeds dood,” het Warne gesê.

“Almal staan saam en ons probeer maniere vind om op ’n daaglikse basis ’n bydrae te maak en hulp te verleen. Juis om dié rede het ek besluit om my geliefde Baggy Green op te veil. Die geld wat ingesamel word, sal aangewend word om brandslagoffers by te staan.”

Die groen Aussie-krieketpet is vir hardebaard-spelers soos Warne, Steve Waugh en Ricky Ponting amper iets heiligs. Om dit prys te gee, wys hoe sterk Warne oor die saak voel.

“Ek hoop die pet kan genoeg geld insamel om ’n verskil te maak. Help my om ’n groot tjek te skenk, baie dankie vir almal se hulp!” het hy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

EO ·

Maroela Media, hou ons asb op hoogte oor die veiling. Sal graag wil weet hoeveel die pet op die veiling gehaal het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.