Shubman moker Titans tot in eindstryd

Shubman Gill het 129 lopies teen die Mumbai Indians geslaan. (Foto: Twitter/IPL)

ʼn Kolf- en boulwerkmeesterles deur Shubman Gill en Mohit Sharma het die Gujarat Titans se plek in die eindstryd van die Indiese Premierliga (IPL) teen die Chennai Super Kings bespreek.

Gill was op sy aanvallende beste en sy blitsbeurt van 129 lopies van slegs 60 aflewerings het die Titans in staat gestel om 233/3 in sy toegelate 20 boulbeurte aan te teken.

Die 23-jarige openingskolwer het 17 grenshoue gemoker en hy het die oranje pet by Faf du Plessis afgerokkel.

Gill het nou 851 lopies in die toernooi teen ʼn gemiddeld van 60 en ʼn treftempo van 156 in sy 16 kolfbeurte aangeteken.

Daarna het Sharma onder Mumbai-kolwers baljaar om met ʼn boulontleding van 5/10 te spog. Hy het onder meer die belangrike paaltjie van Suryakumar Yadav geneem.

Yadav word deur baie Indiese krieketondersteuners as AB de Villiers se eweknie beskou – veral wat sy houespel betref – en hy het gister weer eens met 61 vinnige lopies uitgeblink.

Sy paaltjie was egter die finale strooi wat die kameel se rug gebreek het en Mumbai het hul laaste vyf paaltjies vir slegs 16 lopies verloor.

Die Titans speel môre om 16:00 teen die Super Kings en die eindstrydaksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Opsomming van telkaart:

Gujarat Titans 233/3 in 20 boulbeurte: Shubman Gill 129, Sai Sudharsan 43 en Piyush Chawla 1/45.

Mumbai Indians 171/10 in 18,2 boulbeurte: Suryakumar Yadav 61, Tilak Varma 43 en Mohit Sharma 5/10.

  • Voorste lopiemakers:
  1. Shubman Gill (Gujarat Titans): 851 lopies teen ʼn gemiddeld van 60,78 ná 16 kolfbeurte.
  2. Faf du Plessis (Royal Challengers Bangalore): 730 lopies teen ʼn gemiddeld van 56,15 ná 14 kolfbeurte.
  3. Virat Kohli (Royal Challengers Bangalore): 639 lopies teen ʼn gemiddeld van 53,25 ná 14 kolfbeurte.
  4. Devon Conway (Chennai Super Kings): 625 lopies teen ʼn gemiddeld van 52,08 ná 14 kolfbeurte.
  5. Yashasvi Jaiswal (Rajasthan Royals): 625 lopies teen ʼn gemiddeld van 48,07 ná 14 kolfbeurte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.