Siek Philander, vrot kolfwerk en eina boulwerk laat Proteas steier

Vernon Philander (Facebook Vernon Philander – Cricket Shots)

Vernon Philander was hospitaal toe vir toetse, die Proteas se boulwerk was ten beste maar bra middelmatig en die kolfwerk power.

Dít is kortliks die hartseerstorie van die tweede dag se spel teen Engeland op die Oval waar Suid-Afrika na ʼn goeie eerste dag Donderdag gesteier het en alle kanse verspeel het om te wen.

Die Proteas was teen uitskeityd op 126/8 nog 227 lopies agter Engeland se eerstebeurttelling van 353  – ʼn telling wat Donderdag op 120/4 onwaarskynlik gelyk het. Hulle het nog 28 lopies nodig om die opvolbeurt te vermy.

Alastair Cook se vasbytbeurt het Vrydag op 88 en die telling op 183/5 geëindig nadat hy en Ben Stokes 63 lopies om die vyfde paaltjie aanteken het.

Voet in die deur vir die Proteas het jy gedink toe Cook moes stap, maar toe het Stokes (uiteindelik met 112 lopies, nege vier en vier sesse in 152 balle) en Jonny Bairstow die telling ʼn hupstoot tot 258/6 gegee met die Engelse boulers wat saam met Stokes hulle kolfbeurt verdere lyf gegee het.

Die Proteas se boulwerk was Vrydag wisselvallig. Philander, voordat hy halfpad deur die eerste skof af is, was weer die beste. Toe hy af en vir toetse hospitaal toe is nadat hy ook Donderdag probleme met sy maag gehad het, was die res net eenvoudig as eenheid nie opgewasse nie.

Morné Morkel was die bestendigste en ook die gevaarlikste, Kagiso Rabada was nie naastenby op sy beste nie hoewel hy en Morkel elk drie paaltjies geneem het, en Chris Morris was weer die kluts kwyt. Keshav Maharaj is ook vroeg reggesien toe Stokes en Bairstow hom bygekom en hy daarna nie veel gevaar ingehou het nie.

♦  Maar die ellende sou eers in die laatmiddag volg, toe Engeland agt paaltjies vir net 126 lopies laat kantel het. Op 51/6 het selfs die honderdtal vir die Proteas onwaarskynlik gelyk.

Rabada (30) en Temba Bavuma (34*) het sake nog probeer beredder met ʼn vennootskap wat 53 werd was, maar die vroeë kolwers het reeds die wenkanse weggesmyt.

Dit was nie soseer swak houe as swak konsentrasie en gebrekkige toewyding wat Suid-Afrika gesink het nie.

Engeland se Toby Roland-Jones het in sy debuuttoets die eerste vier paaltjies geneem en die Proteas se kolfrug gebreek. Na sy eerste skof het hy 4/22 agter sy naam gehad en die dag afgesluit met 4/39. Saam met die ander boulers wat toe stert in die lug was, is die Proteas daarna verneder.

Dit sal glad nie verbaas as Joe Root die opvolgbeurt afdwing nie. Suid-Afrika is nog 227 lopies agter Engeland se eerstebeurttelling, en Root se boulers het dusver saam net 43 beurte afgestuur.

Dit laat hulle vars genoeg om die Proteas Saterdag ʼn beurt-nekslag toe te dien.

Klik op die skakel om die volledige telkaart en statistiek te sien:  http://www.espncricinfo.com/series/10718/scorecard/1031441/England-vs-South-Africa-3rd-Test-Basil-DOliveira-Trophy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

1. Dit kry jy as jy jou nie by jou eerk bepaal nie en stralejakker tussen SA en Eng wanneer jy eintlik in jou eerk moet wees.
2. Dink die knoei polisie moet ook bietjie dieper kyk hier. Min of meer die selfde spelers teen mekaar. In 1ste toets vee Eng ons van tafel. In 2de toets vee SA vir Eng van tafel en soveer lyk dit of Eng ons eeer van tafel gaan vee. Te fik vir ‘n daalder!

dirk ·

Afrigter se moeder oorlede.

AB kies wanneer hy wil speel.

wat maak Neill Mckensie as kolf afrigter. die lyk ssof die kolwers al swakker word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.