Simon kry weer sy internasionale kans

Simon Harmer vier ’n paaltjie in Proteas-kleure. (AP Photo/Rafiq Maqbool)

Simon Harmer, die selfverklaarde “beste wegbreek-bouler ter wêreld” is by die Protea-toergroep vir hul komende toetsreeks teen Nieu-Seeland in Christchurch ingesluit

Die 32-jarige draaier se laaste toets was in 2015 tydens een van die Suid-Afrikaners se rampspoedige toere in Indië. Hy het kort daarna ’n Kolpak-kontrak met Essex onderteken waar hy uitstekende krieket speel.

As hy nie 14 paaltjies in ’n County-wedstryd vir sy graafskap geneem het nie, het hy hulle na glorie in die Vitality Blast-reeks gelei. Hy is welverdiend in 2020 as een van die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack se beste krieketspelers van die jaar aangewys.

In sy 61 graafskapwedstryde het hy reeds ’n verstommende 303 paaltjies laat spat.

Maar sedert Brexit sy kanse om vir Engeland internasionale krieket te speel in die wiele gery het, is hy weer terug in Suid-Afrika waar hy eersterangse krieket vir die Titans speel.

“Ek het nog drome om vir Suid-Afrika te speel. Dit is waarom ek terug is,” het hy in ’n vorige onderhoud gesê.

Sedertdien het hy 27 paaltjies teen ’n gemiddeld van 21,40 vir die Pretorianers geneem en het hy veral amok teen die Westelike Provinsie (7/76) en Noordwes (5/20) gemaak.

Nodeloos om te sê is Mandla Mashimbyi (Titans-afrigter) in sy noppies oor die ervare draaier se vertoning en hy meen dat Harmer waarde by sy span voeg.

“Simon het baie vaardighede en hy beskik oor ongelooflike krieketkennis. Ek dink hy is tans die beste draaier in wêreldkrieket en dit is lekker om hom hier te hê,” het Mashimbyi gesê.

Met George Linde (sy troue is om die draai) en Prenelan Subrayen (besering) wat nie beskikbaar vir die Nieu-Seelandse wedstryde is nie, sal Harmer en Keshav Maharaj die Proteas se draaibal-duo wees.

Die Suid-Afrikaners vertrek op 2 Februarie na Nieu-Seeland en ná ’n kwarantynperiode van tien dae sal die eerste toets op 17 Februarie begin.

Protea-toergroep: Dean Elgar (kaptein), Temba Bavuma (onderkaptein), Sarel Erwee, Simon Harmer, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi, Duanne Olivier, Keegan Petersen, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Lutho Sipamla, Glenton Stuurman, Rassie van der Dussen en Kyle Verreynne.

Bepalings:

Eerste toets: 17 tot 21 Februarie in Christchurch

Tweede toets: 25 Februarie tot 1 Maart in Christchurch

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.