Skoonskip-reeks wink vir Proteas ná vierde sege

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika se krieketspan is op die randjie van ʼn skoonskip-eendagreeks teen Australië ná die vierde maklike sege, met ses paaltjies, op St George-park in Port Elizabeth.

Sonder drie van hulle voorste boulers, Dale Steyn, Kagiso Rabada en Imran Tahir, het die Proteas se Kyle Abbott en Dwayne Pretorius vroeg teruggeslaan en die Aussies op 12/3 laat steier.

Aaron Finch (2) is met die derde bal van die wedstryd skoongeboul, Dave Warner (6) het 10 balle later gevolg, ook deur Abbott skoongeboul, en Pretorius het toe vir George Bailey vir een lopie beenvoor betrap. Ná 19 balle was die eerste drie kolwers op 12/3 in die pawiljoen.

Daarna het die relatiewe nuweling Taraiz Shamsi sy ding gedoen en die besoekers sonder raad gelaat met sy draaiballe. Sy 3/36 het hulle saam met Abbott (4/40) tot 167 almal uit help beperk.

Daar was ʼn vroeë skrikslag vir die Protes toe hulle eers vir Hashim Amla (4) op 8/1 en toe vir Quinton de Kock (18) op 29 verloor het, maar JP Duminy (25) en Faf du Plessis het daarna die telling na 85/3 geneem voordat Duminy uit is. Daarna het Rilee Rossouw met sy onoorwonne 33 saam met Du Plessis (69) die tuisspan tot binne 28 lopies van die oorwinning gebring.

Farhaan Behardien en Rossouw het toe die moedelose Aussies ná 35.5 boulbeurte finaal gekelder.

Opgesomde telkaart:

Australië 167/10 (36.4 beurte)
Kolwers: Mitchell Marsh 50, Matthew Wade 52, Chris Tremain 23, Steve Smith 21. Boulers: Kyle Abbott 4/40, Tabraiz Shamsi 3/36, Aaron Phangiso 2/17, Wayne Pretorius 1/33.

Suid-Afrika 168/4 (35.3 beurte)
Kolwers:
Hashim Amla 4, Quinton de Kock 18, Faf du Plessis 69, JP Duminy 25, Rilee Rossouw 33*, Farhaan Behardien 12*. Boulers: Chris Tremain 2/48, Mitchell Marsh 1/22,Adam Zampa 1/32.

Suid-Afrika wen met ses paaltjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.