Smith en Boucher se heldedade op Edgbaston

Argieffoto van Mark Boucher en Graeme Smith. Foto: William West/AFP.

Suid-Afrikaanse krieketlegendes Graeme Smith en Mark Boucher was vanweë Krieket Suid-Afrika (KSA) se projek vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN) om nie-krieketredes in die kollig.

Adv. Dumisa Ntsebeza (onafhanklike ombudsman) het destyds in sy verslag van 235 bladsye die twee spelers onder ’n rasvergrootglas geplaas en KSA het nie op hom laat wag om ’n formele ondersoek van stapel te stuur nie.

Daar is egter intussen bevind dat die bewerings teen Smith geen gewig dra nie, terwyl die klagtes teen Boucher ook vroeër die week laat vaar is.

Maar in ’n land soos Suid-Afrika is selfs ongegronde beskuldigings van rassisme ’n etiket wat byna onmoontlik is om van ontslae te raak.

Graeme Smith het in sy 117 toetse meer as 9 000 lopies vir die Proteas aangeteken. Foto: Luigi Bennett / AFP)

Noudat die stof egter vir eers effens gaan lê het, kan ’n mens Smith en Boucher se bydraes tot plaaslike krieket ’n bietjie in oënskou neem.

Die twee het gesamentlik in meer as 260 toetse vir die Proteas gespeel en een van hul beste vertonings was ongetwyfeld in 2008 teen Engeland op Edgbaston.

Die Suid-Afrikaners het destyds 281 lopies vir ’n oorwinning benodig; op die spel was ’n eerste reekssege weg van die huis teen die Engelse in meer as 40 jaar.

Smith en Neil McKenzie het weliswaar ’n goeie openingsvennootskap van 65 lopies geniet, maar toe AB de Villiers in die 53ste beurt sy paaltjie verloor het, was die Suid-Afrikaners nog meer as 100 lopies weg van die wenteiken.

Maar wanneer dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie, het ’n span juis spelers soos Smith en Boucher nodig om die skip weer na ’n veilige hawe te stuur.

Mark Boucher. Foto: Alexander Joe/AFP. 

’n Onoorwonne vennootskap van 112 lopies het toegesien dat die Suid-Afrikaners die wedstryd met vyf paaltjies gewen het.

Smith se spogbeurt van 154 was die eerste honderdtal in die vierde beurt van ’n toets op Edgbaston, terwyl Boucher se 45 sy hoogste telling in ’n suksesvolle lopiejaagtog was.

“Graeme Smith se vertoning is een van die bestes in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis, terwyl ’n mens nie van Mark Boucher se bydrae moet vergeet nie: Hy is ’n vegter wat nooit moed opgee nie,” was Cricinfo se raakvat-beskrywing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.