Smith-hulle wil twee vlieë met een krieketkolf klap

Graeme Smith. (Foto: ANA)

Indien alles volgens plan verloop, sal die T20-wêreldbekertoernooi vanjaar in Indië aangebied word. En benewens daardie een dag in 1998 – toe Hansie Cronjé die Wills-beker omhoog gehou het – het die Proteas nog geen noemenswaardige sukses in internasionale uitkloptoernooie gesmaak nie.

Die komende mik-en-moker-skouspel sal dus een van Mark Boucher se hoofprioriteite wees, maar sukses in die toetsarena is vir die hardebaard oudpaaltjiewagter selfs belangriker.

Juis om dié rede sal Heinrich Klaasen ’n jong en onervare span vir die T20-reeks teen Pakistan aanvoer, terwyl Quinton de Kock-hulle na Suid-Afrika sal terugkeer om vir die toetse teen Australië voor te berei en om die Covid-19-kwarantynregulasies onder die knie te kry.

“Die pandemie het sportbeheerliggame wêreldwyd genoop om innoverende maniere te vind sodat reekse kan voortgaan,” het Suid-Afrika se direkteur van krieket, Graeme Smith, gesê.

“Ons moes juis op ’n kreatiewe wyse te werk gaan om te sorg dat ons so gereed as moontlik vir die toetsreeks teen Australië is, terwyl ons terselfdertyd ook tot die opwinding van die T20-kragmetings teen Pakistan kan bydra.”

Die Proteas se Heinrich Klaasen. Foto: Twitter.

Klaasen sal aan die stuur van opwindende jong spelers soos die Cobras se Nandre Burger en Janneman Malan wees, terwyl die Vrystaat se Jacques Snyman ook sy stempel in Pakistan sal wil afdruk.

Volgens keurderbaas Victor Mpitsang het hy volle vertroue in Klaasen se leierskapvaardighede.

“Heinrich het al vantevore spanne met welslae op die veld aangevoer en ons weet dat hy gereed sal wees vir die uitdaging in Pakistan,” het Mpitsang gesê.

“Daar sal mense wees wat ’n bohaai gaan opskop oor die gebrek aan ervaring van die span, maar hierdie is ’n gulde geleentheid om te sien wat in die jong spelers steek op die vooraand van die Wêreldbeker-toernooi.”

  • Proteas se T20-groep vir die reeks teen Pakistan: Heinrich Klaasen (kaptein), Nandre Burger, Okuhle Cele, Junior Dala, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, George Linde, Janneman Malan, David Miller, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Ryan Rickleton, Tabraiz Shamsi, Lutho Sipamla, Jon-Jon Smuts, Pite van Biljon, Glenton Stuurman en Jacques Snyman.

 

  • Bepalings:

11 Februarie (Lahore), 13 Februarie (Lahore) en 14 Februarie (Lahore).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andrew ·

Ek dink hulle moet die kwotaklas in hakkies agter elke ou se naam sit, net om te sorg die hele netbal finaal fiasko gebeur nie weer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.