Smith in sy noppies met Protea-vroue

Mignon du Preez. Foto: Twitter.

Die Proteas se vrouekrieketspan geniet deesdae superheldin-status nadat hulle die reeks teen Indië beklink het. Boonop word die laaste wedstryd in die reeks eers môre beslis.

Dit was veral die Suid-Afrikaners se kolwers wat hul stempel dubbel en dwars afgedruk het. Hul 269/3 in die vierde kragmeting is die hoogste lopiejaagtog in die geskiedenis en die tuisspan se boulers gaan beslis nog lank nagmerries oor Lizelle Lee, Laura Wolvaardt, Mignon du Preez en Lara Goodall se flitsende kolwe kry.

Lee is die voorste lopiemaker in die reeks. Die openingskolwer het ná haar pragbeurt van 132 in die derde wedstryd gesê sy wil graag van haar wisselvalligheid met die wilgerlat ontslae raak. Nou ja, sy het 69 in die daaropvolgende beurt aangeteken in nóg ’n openingsvennootskap van meer as 100 lopies saam met die talentvolle Wolvaardt.

Op haar beurt het Du Preez – ’n voormalige kaptein – ook ’n sleutelrol in die vierde kragmeting gespeel.

“Dit is ongetwyfeld ’n massiewe selfvertroue-inspuiting vir ons span; veral as jy in ag neem dat ’n paar van ons senior spelers nie beskikbaar is nie. Dit was ’n spesiale vertoning,” het Du Preez gesê.

Dan het Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, ook hulde aan die span gebring.

Die voormalige hardebaard-openingskolwer het aan die stuur van die Proteas se manspan verskeie reekse oorsee gewen, maar hy is net te bewus van hoe moeilik dinge in Indië kan raak.

“Indië is ongetwyfeld een van die taaiste plekke om na te toer en om vir hulle in hul eie agterplaas ore aan te sit, is ’n ongelooflike prestasie,” het Smith gesê.

Maar waar kolwers soos Lee en Goodall dalk die hoofopskrifte haal, moet ’n mens beslis nie van Shabnim Ismail vergeet nie.

Die 32-jarige snelbouler het tans die naasmeeste paaltjies in die reeks geneem en sy plaas die tuisspan se kolwers gereeld op die agtervoet.

Die laaste wedstryd begin môre en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Boer

Ek sien die vroue gaan n WB wen nog voor die mans!!!!!!!!!!!!!! Go Girls!