Smith krap in ander man se kolfkampie

Steve Smith. Foto: David Gray/AFP.

Die toetsreeks tussen Australië en Indië sorg oudergewoonte vir hope aksie: op en langs die veld.

Australië het die eerste toets op ’n drafstap gewen nadat hulle die besoekers vir slegs 36 lopies uitgeknikker het, terwyl Indië goed in die tweede toets terugbaklei het om ook met agt paaltjies te seëvier.

Die pasvoltooide derde toets op die Sydney Cricket Ground het weliswaar gelykop geëindig, maar dit het steeds vir meer drama as die deursnit sepiereeks gesorg.

Jasprit Bumrah en Mohammad Siraj het onder beweerde rassistiese kommentaar deurgeloop en dit was veral toe die twee snelboulers op die grens veldwerk gedoen het waar die tuisskare hul ore glo laat tuit het.

Nou is Steve Smith, die voormalige Aussie-kaptein, weer eens in joernaliste se visier.

Die eksentrieke Smith – wat eers ’n amperse rieldans moet uitvoer voordat hy stelling voor die paaltjies kan inneem – is nou in die spervuur omdat hy in Indië se tweede beurt sy skermkolfvaardighede op die kolfblad uitgestal het.

Beeldmateriaal het gewys waar die Aussie, te midde van Rishabh Pant se spogbeurt, in die kolfkampie rondskrop om sy merkie te maak.

Nodeloos het Smith se aksies ’n paar wenkbroue gelig en joernaliste wou weet of hy doelbewus probeer het om ’n stok in Pant se kolfwerkwiel te steek.

Tim Paine, die Australiese kaptein wat self ’n nagmerrietoets agter die paaltjies ervaar het, het egter Smith verdedig.

“As jy vir Steve dophou, sal jy daarop let dat hy so iets taamlik gereeld gedurende ’n toetswedstryd doen. Hy staan altyd op die kolfblad en oefen sy kolfwerk wanneer ons in die veld is,” het Paine gesê.

“Dit was glad nie ’n doelbewuste poging om Pant se kolfkampiemerkies te verander nie. Dit is pleinweg net een van sy vele fieterjasies.”

Paine het egter bygevoeg dat Smith dalk voortaan hierdie gewoonte sal moet laat staan.

  • Uitslae van Indië se toer na Australië:

Eerste eendagwedstryd: Australië wen met 66 lopies

Tweede eendagwedstryd: Australië wen met 51 lopies

Derde eendagwedstryd: Indië wen met 13 lopies

Eerste T20-wedstryd: Indië wen met 11 lopies

Tweede T20-wedstryd: Indië wen met ses paaltjies

Derde T20-wedstryd: Australië wen met 12 lopies

Eerste toets: Australië wen met agt paaltjies

Tweede toets: Indië wen met agt paaltjies

Derde toets: Gelykopuitslag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris dupreez ·

Wil voorkom of die man maar nie sy skelmstreke kan laat staan nie.

pompies ·

Wat kan mens van hom en sy makker se wat in SA die skuur papier truuks probeer het, hulle kan nie ophou met hulle gekullery nie. Kan hulle nog lieg ook daarby hy moes net uitgeskop wees om nie weer toets krieket te speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.