Smith: ’n Krieketheld wat beter hanteer moes word

Graeme Smith het in sy 117 toetse meer as 9 000 lopies vir die Proteas aangeteken. Foto: Luigi Bennett / AFP)

Op 7 Januarie 2009 het Graeme Smith die verbeelding van die krieketwêreld aangegryp toe hy met ’n gebreekte hand op die Sydney Cricket Ground (SCG) gaan kolf het.

Druk nou die versnelknoppie na April 2022 en Smith moes weer eens bontstaan vir ’n opslagbal. Maar hierdie keer was dit vanuit sy eie raadsaal afkomstig; van die nasionale krieketbeheerliggaam wat die belange van Suid-Afrikaanse krieket moet bevorder.

Twee onafhanklike arbiters het egter bevind dat die bewerings van rassisme teen die oudkaptein geen gewig dra nie.

“Ek is dankbaar dat ek van alle blaam onthef is. In die afgelope 20 jaar het ek net my heel beste vir Suid-Afrikaanse krieket gegee – hetsy as speler, kaptein of administrateur. Om hierdie ongegronde bewerings van rassisme te hoor was uiters moeilik; nie net vir myself nie, maar ook vir my gesin,” het Smith in ’n verklaring gesê.

Die held van Sydney

Graeme Smith het met ’n gebreekte hand gekolf. Foto: Twitter.

Twee skitterende vertonings in Perth en Melbourne in 2009 het gesorg dat Smith se Proteas die eerste Suid-Afrikaanse span geword het om ’n toetsreeks in Australië te wen. Dit was ook die eerste reeksnederlaag wat die Aussies in 17 jaar op tuisbodem gely het.

Maar in Sydney het een van Mitchell Johnson se kartetse – teen 144 km/h – hom in die eerste beurt teen die linkerhandskoen getref.

Die Proteas se mediese personeel het hom onmiddellik te hulp gesnel, maar die diagnose was nie goed nie: Sy hand was gebreek.

Mark Boucher – nog ’n oudspeler wat in Krieket Suid-Afrika se projek vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN) se visier is – se vegtersbeurt van 89 het gesorg dat die Suid-Afrikaners 376 lopies vir ’n oorwinning moes aanteken.

“As ons tien lopies benodig om te wen, is ek seker daarvan dat Graeme sal kolf; dit hang alles van die situasie af,” het die Protea-draaier, Paul Harris, voor die Suid-Afrikaanse beurt gesê.

Met die telling op ’n wankelrige 202/8 het Makhaya Ntini hom by Dale Steyn op die laaste dag van die toets aangesluit.

Die twee snelboulers het vir 75 minute wal gegooi, voordat Steyn deur Andrew McDonald been voor paaltjie betrap is. Daar was net 50 aflewerings in die toets oor.

Al die toeskouers en elke kameraman het hul aandag op die Suid-Afrikaanse kleedkamer gevestig. En die rateltaai Protea-kaptein het hulle nie teleurgestel nie.

Graeme Smith. Argieffoto.

“Dit is ’n magtige figuur dié,” het Mark Nicholas vanuit die kommentatorshokkie gesê terwyl Smith stelling voor die paaltjies ingeneem het.

Smith het uiteindelik vir 26 minute gekolf voordat Johnson hom skoongeboul het.

Daar was 11 balle in die wedstryd oor.

“Dit was een van die dapperste dinge wat ek nóg op ’n krieketveld gesien het,” het die Aussie-kaptein, Ricky Ponting, ná afloop van die wedstryd gesê.

Die 41-jarige voormalige openingskolwer se kontrak as Suid-Afrika se eerste direkteur van krieket het ’n paar weke terug tot ’n einde gekom.

Nodeloos om te sê het Smith nie weer aansoek vir die pos gedoen nie.

Die held van Sydney in 2009 (én Lord’s in 2003 én Edgbaston in 2008 én die Verenigde Arabiese Emirate in 2013) verdien eintlik soveel meer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend ·

Daar is mense wat nie omgee op wie hulle trap om by die geld uit te kom. Regte sportmanne het nog meeste van die tyd goeie adminastrateurs uitgemaak. In sy geval ook. Veral in die totale wanorde waar hy begin het. Na al die haat wat geskep was sou ek ook liewer ‘n pad gevat het.

Kirst ·

“Ons mense” vereer eerder skurke soos Zuma en probeer helde soos Smith vervolg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.