Smith nog vies vir Aussies, maar wil Indië-stryd reël

Graeme Smith in sy speeldae. Foto: Asif Hassan/AFP.

Die Proteas kan in die afsienbare toekoms ’n paar keer teen Indië te staan kom. Volgens Graeme Smith is die bepalings amper gefinaliseer.

“Indië het ons nog altyd ondersteun en hopelik kan ons binnekort ’n paar toere van stapel stuur,” het Suid-Afrika se direkteur van krieket gesê.

Volgens Smith het hy en Sourav Ganguly – die president van die Indiese krieketraad – ’n goeie verhouding. Die twee was al ’n paar keer in gesprek en die logistieke reëlings vir die wedstryde is amper gereed.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het ’n moeilike klompie maande agter die blad. Engeland het hom weens Covid-19-vrese aan die eendagreeks in die Kaap onttrek, terwyl Australië besluit het om glad nie na Suid-Afrika te toer nie.

Hoewel dinge met die Engelse krieketraad (ECB) uitgestryk is, sorg die Aussie-situasie steeds vir ’n wrang smaak in die voormalige Protea-kaptein se mond.

“Samesprekings met die ECB het uitstekend verloop en ons kon intussen die eendagreeks herskeduleer.”

Maar o wee, daardie Aussies …

“Ons het nooit dieselfde gevoel van samewerking van hulle gekry soos met die ander krieketrade nie. Dit is in die belang van wêreldkrieket as ons hulle uitdaag en ’n paar moeilike vrae vra.”

Smith het destyds gesê hy is teleurgesteld in die Australiërs se besluit om nie na Suid-Afrika te toer nie.

Die besoekers sou onder meer die eksklusiewe gebruik van die Irene-buiteklub geniet het, terwyl KSA ook met groot koste ’n Australiese opsporingstelsel aangeskaf het om mense op te spoor indien daar positiewe Covid-19-gevalle sou wees.

“Elke land moet sy eie unieke uitdagings trotseer. Dit is ongelooflik belangrik dat lidlande mekaar ondersteun en maniere vind om dinge gedoen te kry. Ongelukkig het Australië nie daardie sienswyse gedeel nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.