Smith permanent deur KSA aangestel

Graeme Smith. Argieffoto.

Graeme Smith is permanent deur Krieket-Suid-Afrika (KSA) as sy direkteur van krieket aangestel.

Die 38-jarige voormalige Protea-kaptein het ’n kontrak van twee jaar met die nasionale krieketbeheerliggaam onderteken.

Sedert hy verlede jaar in ’n tydelike hoedanigheid in dié rol begin het, het hy vir Mark Boucher, Jacques Kallis en Charl Langeveldt deel van die nasionale opset gemaak. Hoewel die Proteas die toets- en eendagreekse teen Engeland verloor het, het hulle in hul laaste eendagreeks vir Australië ore aangesit.

“Graeme het ’n reuseverskil gemaak te danke aan sy energie, vaardighede, werksetiek en passie,” het KSA se waarnemende uitvoerende hoof, dr. Jacques Faul, gesê.

Smith, wat as Suid-Afrika se suksesvolste toetskaptein nóg beskou word, het die Proteas in 117 toetse en in 197 eendagwedstryde verteenwoordig. Hy het in 2003 in sy debuutreeks as kaptein twee agtereenvolgende dubbelhonderdtalle teen Engeland geslaan.

“Hoewel daar nog baie werk op hom wag, is daar darem ’n opwaartse kurwe wat ons krieket betref en daar is ’n lig aan die einde van die tonnel.”

Quinton de Kock. (Foto: Themba Hadebe/AP)

Faf du Plessis is intussen met welslae deur Quinton de Kock as die T20- en eendagkaptein vervang, terwyl die 35-jarige Du Plessis ook as toetskaptein bedank het.

Hoewel die 27-jarige De Kock tot dusver sewe vyftigtalle en ’n honderdtal in sy wedstryde as witbalkrieket-kaptein geslaan het, kan die bykomende verantwoordelikheid as toetskaptein dalk net te swaar op sy skouers rus.

Daar word baie van ’n speler verwag as hy die span se paaltjiewagter, flinkste kolwer én kaptein in die toetsarena is.

Temba Bavuma. Foto: ANA.

Volgens SA Cricket Magazine het Smith egter bevestig dat die talentvolle paaltjiewagter nie die toetskaptein-mantel by Du Plessis sal oorneem nie. Temba Bavuma en Aiden Markram is in die binnebaan om die rooibal-krieketleisels vas te vat.

Markram is juis deur dr. Ali Bacher as ’n toekomstige toetskaptein uitgesonder.

“Aiden is ’n natuurlike leier en hoewel hy ’n baie moeilike tyd in Indië gehad het, tel ouderdom in sy guns. Gee vir hom ’n paar jaar om te wys van watter stoffasie hy gemaak is,” het Bacher gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.