Snelboulers sal hul sokkies moet optrek

Die Proteas vier ’n paaltjie. Foto: Ishara S. Kodikara/AFP.

’n Mens benodig nie die speurdienste van ’n Sherlock Holmes, ’n Hercule Poirot of ’n Yster Swart om te ondersoek waar dinge gister vir die Proteas in hul nederlaag van 14 lopies teen Sri Lanka skeefgeloop het nie.

Dit is eintlik heel eenvoudig: Die boulers – en die vinger word veral hier na die snelboulers gewys – het pleinweg te veel lopies afgestaan.

Die Protea-boulers het toegelaat dat die Sri Lankane se ietwat onbekende kolwers 300/9 in hul toegelate 50 boulbeurte aanteken. Suid-Afrika se drie snelboulers, Kagiso Rabada (2/66), Anrich Nortjé (0/69) en Andile Phehlukwayo (0/37) het 172 van hierdie lopies in slegs 24 boulbeurte afgestaan.

Daarteenoor het Keshav Maharaj hom uitstekend van sy taak gekwyt om met ’n boulontleding van 2/30 in sy tien boulbeurte te spog. Selfs Aiden Markram – ’n deeltydse bouler – het minder as ses lopies per boulbeurt afgestaan.

Wat kolfwerk betref het die Proteas net doodeenvoudig stoom teen die einde van die beurt verloor.

Markram (96) en Temba Bavuma (38) het ’n goeie vennootskap van 106 lopies om die tweede paaltjie geniet totdat die Protea-kaptein die veld moes verlaat nadat ’n veldwerker hom teen die hand raakgegooi het.

Markram is ’n kort rukkie later in die buiteveld uitgevang en hoewel Rassie van der Dussen (59) en Heinrich Klaasen (36) moedig probeer het, het die tuisspan se boulers die lopiekrane beter as ’n onbekwame nutsman toegedraai.

Die tweede wedstryd in die reeks begin môre en die Proteas sal inderhaas na hul span moet kyk. Andile Phehlukwayo is tans nie die antwoord nie en die veelsydige speler het weer eens gesukkel.

Iemand soos Dwaine Pretorius verdien dalk weer ’n kans, maar wie laat jy dan uit die span om hom te akkommodeer?

Terwyl talle sosialemediagebruikers in Suid-Afrika Mark Boucher se kop as hoofafrigter eis, het hy ’n reekssege baie nodig.

Quinton de Kock is egter nie vir die eendagreeks beskikbaar om die span te kom red nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Afriperd ·

Ja die snelboulers het teveel lopies af gestaan, maar ook Bavuma het hopeloos te stadig gekolf wat die druk op die ander kolwers gesit het na hom.

Thelsa ·

Die spel bestaan uit 3 komponente – boulwerk, veldwerk en kolfwerk. Alle spelers moet in ALLE afdelings hulle maksimale insette lewer. Ons boulers is pateties. Lyne en lengte word nie gehandhaaf nie. Om 300 lopies af te staan teen Sri Lanka is ondenkbaar. Ons het op dieselfde blad gekolf en kon nie die teiken aanteken nie. Duh ???

Andre ·

Nortje; Rabada en Phehlukwayo is nie op vorm nie en behoort vervang te word

Adam ·

As die proteas meer op krieket en minder op belaglike politieke standpunte konsentreer(BLM),
sal hul krieket vanself verbeter.
Op hierdie stadium ondersteun ek enige span wat teen hulle speel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.