Snorkrag wek boulerwoema op

Anrich Nortjé. Foto: Twitter.

Anrich Nortjé het nog altyd kolwers laat bontstaan met sy vaart. Die snelbouler het dan immers ʼn jaar of twee gelede die vinnigste aflewering in die geskiedenis van die Indiese Premierliga (IPL) afgestuur toe hy vir Jos Buttler met ʼn kartets van 155,1 km/h welkom geheet het.

Maar sedert hy sy indrukwekkende snor gekweek het – amper soos die Dalton-broers op Lucky Luke, maar net beter – is hy beslis ʼn groter bedreiging.

Hy was Suid-Afrika se beste speler op hul rampspoedige toer na Australië en David Warner het erken dat een van Nortjé se salvo’s die vinnigste boulwerk was wat hy nóg trotseer het.

Dan moet hy ook ʼn vreesaanjaende gesig vir kolwers in die plaaslike SA20-toernooi wees: Ritme en spoed was nog altyd ʼn gevaarlike kombinasie.

Die Pretoria Capitals-bouler is tans die voorste paaltjievraat in die toernooi – hy het reeds 13 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 12,61 laat spat.

Toegegee, ʼn liplapa het seker niks met die paaltjieoes uit te waai nie, maar is dit blote toeval dat van die wêreld se gevaarlikste boulers met snorre gespog het?

Dennis Lillee was byvoorbeeld net so bekend vir sy seepgladde boulaksie en werketiek as vir sy vurige humeur en welige snor.

Dennis Lillee. Foto: Twitter.

Die Australiër – wat 355 paaltjies in slegs 70 toetse vir Australië geneem het – het ʼn uitstekende snelboulvennootskap met Jeff Thomson gevorm.

ʼn Australiese koerant het tydens die Reeks om die As in 1974 met hierdie juweel vorendag gekom: “Ashes to Ashes; dust to dust. If Thomson don’t get ya, Lillee must”.

Ongeveer 30 jaar nadat Lillee sy laaste toets vir Australië gespeel het, het nog ʼn snordraende Aussie vir kolfwerkkopsere gesorg.

Mitchell Johnson was vir die grootste gedeelte van sy internasionale loopbaan ʼn snelbouler wat vinniger as 145 km/h kon boul, maar sy bestendigheid het hom dikwels in die steek gelaat.

Druk egter die versnelknoppe na die 2013-’14-seisoen en Johnson – nou gespierd en gesnor – was aggressief, vinnig én akkuraat.

Oor ʼn tydperk van agt toetse teen Engeland en Suid-Afrika het hy 59 paaltjies teen ʼn spoggemiddeld van 15,23 geneem.

Helms en handskoene was net so gereeld soos die paaltjies in die spervuur.

 

Een van die oorspronklike liplapa-helde is ongetwyfeld Fred “The Demon” Spofforth wat sy krieket tussen 1874 en 1897 vir Australië gespeel het.

Hy het in hierdie tydperk weliswaar net 18 toetse gespeel, maar hy het steeds 94 paaltjies laat kantel en met die wêreld se eerste internasionale driekuns gespog.

Volgens Cricinfo was sy boulaksie en vaart nie juis iets om oor huis toe te skryf nie, maar wel sy leeuemoed en akkuraatheid.

En natuurlik sy snor.

  • Ander legendariese snordraers:

Sir Richard Hadlee (Nieu-Seeland), Merv Hughes (Australië), Kapil Dev (Indië), sir Ian Botham (Engeland) en Max Walker (Australië).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

As hy sy lyf bestuur en nie oorbowl nie, gaan hy n baie lang loopbaan, suksesvolle loopbaan he. What a bowler. Nik mooier as n quick wat die offstump laat trek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.