Só naby, maar tog só ver vir Proteas in lopiefees

Rassie van der Dussen van Suid-Afrika (14 Februarie 2020) (Foto: AP Photo/Themba Hadebe)

Vóór gisteraand se tweede T20-wedstryd in Durban het Protea-spelers soos Quinton de Kock en Temba Bavuma gesê dat hulle die reeks finaal buite Engeland se bereik wou plaas. En 406 lopies in 40 aksiebelaaide boulbeurte op Kingsmead later, het die Suid-Afrikaners só amper daad by woord gevoeg.

Die Proteas moes ’n rekordtelling van 205 gejaag het en met hul nuutgevonde veggees het hulle eers met die laaste aflewering van die wedstryd die handdoek ingegooi. Waar hulle vroeër die week vir Engeland met een lopie gewen het, moes hulle gisteraand met twee lopies teen Eoin Morgan-hulle die knie buig.

De Kock het die loot gewen en besluit om eerste veldwerk te doen. En met Engeland se telling op 125/5 ná 15 boulbeurte het dit na die korrekte besluit gelyk. Maar ’n blitzkrieg deur Moeen Ali (39 van slegs 11 balle) en Ben Stokes (47* van 30 balle) het gesorg dat die toerspan 204/7 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken het.

Waar die Protea-boulers in die eerste T20-wedstryd hul teenstanders met uitstekende stadiger-aflewerings geflous het, was die Engelse kolwers gisteraand gereed vir dié taktiek en hulle het in die laaste vyf boulbeurte amper 80 lopies gemoker. Net weer eens ’n bewys dat jy aanpasbaar in krieket moet wees.

Dwaine Pretorius van Suid-Afrika (14 Februarie 2020) (Foto: AP Photo/Themba Hadebe)

Suid-Afrika het ’n Ali-agtige beurt nodig gehad om die bal aan die rol te sit en De Kock het sommer beide hande opgesteek. Die nuwe Suid-Afrikaanse witbalkrieket-kaptein het 65 lopies van slegs 22 aflewerings getimmer en hy het die grens met hartelus gevind. Hy het in die proses die vinnigste T20-vyftigtal deur ’n Suid-Afrikaanse speler aangeteken.

Sy vertrek met die Proteas se telling op 92, het egter gesorg dat die tuisspan egter die wind so ’n bietjie van voor gekry het; te danke aan goeie boulwerk deur Stokes en Chris Jordan.

Maar Rassie van der Dussen (43* van 26 balle) en Dwaine Pretorius (25 van 13 balle) het weer nuwe vuur in die Protea-kolfbeurt geblaas. En toe Pretorius ’n ses en ’n vier van die wedstryd se laaste boulbeurt geslaan het, het dit gelyk asof die momentum-pendulum weer in Suid-Afrika se guns geswaai het.

Tom Curran – wat in Suid-Afrika gebore is – het egter kalm gebly en éérs van Pretorius en tóé van Bjorn Fortuin ontslae geraak om die wedstryd vir Engeland te wen.

“Dit was briljante krieket gewees en altwee spanne speel tans vermaaklike krieket. Hulle het baie goed teen die einde geboul, maar Rassie (van der Dussen) is mal oor sulke situasies en hy het skitterend gekolf. Dit is egter steeds ’n groot teleurstelling dat ons nie gewen het nie,” het De Kock ná die tyd gesê.

Die Proteas moet nog ’n reeks onder Mark Boucher se leierskap wen, maar dat hul ou veggees darem terug is, is nie eens altemits nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Dit gaan my verstand te bowe dat De Kok die 16de boulbeurt nie eers vir Pretorius gegee het nie aangesien hy op daardie stadium die beter bouler was. Dan kan ek weer nie Pretorius se logika verstaan dat hy in die 19de boulbeurt die slag met die kolf vir homself hou nie en toe nog met die laaste boulbeurt ‘n enkel lopie neem om die 29ste boul beurt vir homself op te eis nie welwetende dat Rassie op daardie stadium begin beheer oorneem het. Ek weet nie een van hierdie 2 stellings sou ‘n waarborg vir ‘n oorwinning wees nie maar was beslis op daardie stadium die meer logiese opsies. Dit lyk egter of SA die heletyd besluit om die 1ste wedstryd van elke formaat te wen en dan die res van die reeks aan Engeland te skenk.

koos10 ·

Die formaat draai krieket op sy kop en normale gedrag by ODI en toets krieket werk gewoonlik nie in T20 nie. Dit is lekker om te kyk maar dis nie dieselfde nie. Maar ek verloor eerder soos gister aand as soos met die 2 en 3de de toetse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.