Son skyn nie vir Temba in SA20-buiging

Temba Bavuma ná ‘n wedstryd van die Sunrisers Eastern Cape. (Foto: Twitter EC Sunrisers)

Dinge het toe nie heeltemal volgens plan vir Temba Bavuma in sy SA20-buiging verloop nie.

Die Proteas se witbalkrieketkaptein, wat vir die Sunrisers Eastern Cape speel, is vir ʼn nulletjie agter die paaltjies uitgevang toe hy ʼn wye aflewering van die Durban’s Super Giants se Reece Topley gejaag het.

Boonop was dit die eerste aflewering wat hy trotseer het.

Die 32-jarige kolwer het in die aanloop tot die plaaslike mik-en-mokerskouspel kwaai met sy spelpeil gesukkel en nie een van die betrokke spanne het in sy dienste tydens die spelersveiling belanggestel nie.

Hy het egter in die onlangse internasionale eendagkrieketreeks teen Engeland uitgeblink en 180 lopies in sy drie kolfbeurte teen ʼn gemiddeld van 60 en ʼn treftempo van 114,64 gemoker.

ʼn Kort rukkie later het die Sunrisers Eastern Cape aangekondig dat hy Tom Abell se skoene vir die oorblywende SA20-wedstryde sal volstaan nadat die veelsydige speler vir Engeland se Lions-span gekies is.

Reën, reën en nogmaals reën

Al twee van gister se wedstryde in die SA20-toernooi is deur reën in die wiele gery.

Die wedstryd tussen die Sunrisers Eastern Cape en die Durban’s Super Giants is ná net 5,2 boulbeurte stopgesit en selfs Jonty Rhodes het geskarrel om die kolfblad teen die gietende reën te beskerm.

In Johannesburg kon die Paarl Royals ook net vir 15 boulbeurte kolf voordat reën hul krieketpartytjie teen die Joburg Super Kings kortgeknip het.

Jason Roy, Engeland se openingskolwer, het met sy 61 vinnige lopies vir die Royals beïndruk.

In vandag se aksie speel die Pretoria Capitals gasheer vir MI Cape Town op SuperSportpark in Centurion. Die Pretorianers is eerste op die punteleer, terwyl die Kapenaars tans heel laaste is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.