Spanpoging help Proteas om Sri Lanka te sink

Aiden Markam en David Miller het ’n goeie vennootskap van 65 geniet. Foto: Ishara S. Kodikara/AFP.

’n Dag ná die Protea-spanaankondiging vir die komende T20-Wêreldbekertoernooi – waartydens spelers soos Janneman Malan en Chris Morris weggelaat is, terwyl George Linde slegs ’n reserwe is – het die span die eerste T20-kragmeting teen Sri Lanka met 28 lopies gewen.

Temba Bavuma het juis daar in die SuperSport-ateljee gesê dat samespel sy span se sterkpunt is. En dit is presies wat hulle – selfs in sy afwesigeid –  in Colombo gedoen het.

Quinton de Kock (36) en Reeza Hendricks (38) het vir ’n stewige, dog onskouspelagtige, begin gesorg, waarna Aiden Markram (48) en David Miller (26) later daarop voortgebou het.

Die Suid-Afrikaners het weereens teen net meer as agt lopies per boulbeurt gekolf en hul boulers kon met redelike gemak die telling van 163/5 verdedig.

’n Kaptein weet dat hy in beheer van sake op die veld is wanneer sy beste bouler (Tabraiz Shamsi) net nodig gehad het om twee boulbeurte af te stuur.

Tog – soos wat Bobby van Jaarsveld amper sê – is daar steeds “dinge wat pla”.

Ja, dit het gisteraand gewerk, maar kan ’n mens rerig elke keer van die Proteas se toporde-kolwers verwag om genoeg lopies te slaan? Hulle is ietwat dun gesaai met Kagiso Rabada wat al op nommer sewe moes gaan kolf het.

Dan was die span se veldwerk glad nie indrukwekkend nie – vyf verbroude vangskote is hoegenaamd nie goed genoeg nie.

Is hierdie die swaeltjie wat die begin van ’n Protea-somer inlui, of gaan hy (soos baie ander in die onlangse geskiedenis) maar weer die hasepad  terug na die wintermaande kies?

Die tweede wedstryd begin môre om 15:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andrew

N swealtjie na een t20. Soos teen die w indies, selling it bit.