Spartans klap vir Rocks in die Paarl

Foto: Tshwane Spartans/Twitter

Dit het nogal ’n rukkie vir die Tshwane Spartans geneem om vir langer as agt boulbeurte op die veld in vanjaar se Mzansi Superliga te wees. Hul eerste twee wedstryde – teen die Durban Heat en die Nelson Mandela Bay Giants – is deur reënweer in die wiele gery.

Maar vandag in die Paarl het die son geskyn en hulle het sommer dadelik hul stempel op die toernooi afgedruk deur die Rocks met agt paaltjies in ’n lopiefees te klop.

Die manne van Pretoria moes 187 lopies slaan om die wedstryd te wen, nadat die tuisspan se James Vince (86 van 53 balle) amok onder die boulers gemaak het.

Snaaks genoeg was dit nie AB de Villiers (19 van 10 balle) wat die meeste skade aangerig het nie; dit was eerder die rooibal-spesialis, Dean Elgar, wat saam met Heinrich Klaasen die Spartans-wa deur die drif getrek het.

Elgar het nege grenshoue in sy onoorwonne beurt van 88 geslaan.

Maar waar Elgar die gom was wat die Spartans-beurt byeengehou het, was Klaasen die vuur in hul enjinkamer. Die 28-jarige Protea het 31 blitsige lopies van slegs 13 aflewerings geslaan teen ’n treftempo van byna 240.

  • In vandag se eerste wedstryd het die Cape Town Blitz vir die Durban Heat met 10 lopies in Durban geklop.

Die Kapenaars het eerste gekolf en 174/6 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Marques Ackerman (43) en Asif Ali (43) het die beste met die kolf gevaar.

Daarna is die tuisspan tot 164/7 beperk; dít ten spyte van ’n pragbeurt deur Wiaan Lubbe. Die jong veelsydige speler vanuit Johannesburg se wêreld het met sy warrelwind-beurt van 83 so byna die skaal in die tuisspan se guns geswaai, maar die Kaapse boulers was vandag net te goed gewees.

Dale Steyn (2/23) en Gregory Mahlokwana (2/26) het die lopiekrane mooi toegedraai en veral Mahlokwana is iemand om dop te hou.

Dié draaibalbouler kan regs- én linkshandig boul!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.