Spartans wil hê AB moet die wit bal sorgeloos looi

AB de Villiers .Foto: GB Jordaan.

Wanneer die Tshwane Spartans binnekort hulle Mzansi Superliga-veldtog begin, sal hulle met die dienste van waarskynlik die mees verwoestende kolwer van sy era spog.

En boonop sal AB de Villiers sonder die ekstra bagasie van kapteinskap sy kolf die praatwerk laat doen.

Die 35-jarige De Villiers het verlede jaar die Pretorianers aangemoedig en die kapteinskap – saam met die buitengewone verwagting wat met elke beurt op sy skouers gerus het – het gesorg dat hy maar taamlik wisselvallig in die 2018-weergawe van die reeks was.

Tog is hy steeds een van die gevaarlikste kolwers ter wêreld en ’n skitterende Indiese Premierliga is onder andere opgevolg deur die Vitality Blast-reeks in Engeland. Dáár het hy 348 lopies teen ’n gemiddeld van 70 en ’n treftempo van 182 lopies per 100 aflewerings geslaan.

Met ander woorde, AB kan steeds ’n wit krieketbal baie hard en baie ver slaan.

En dit is presies wat Mark Boucher, die Spartans se afrigter, van hom verwag.

“Hy is ’n fantastiese speler en hy moet met dieselfde vryheid speel soos wat hy die afgelope ruk in Indië en Engeland gespeel het,” het Boucher gesê.

“Ek dink nie dit is nodig dat AB die kapteinsmantel hoef te dra nie. Hy is op daardie stadium van sy lewe waar hy net sy krieket moet geniet. Dan speel hy in elk geval op sy beste.”

Heinrich Klaasen sal die Pretorianers in De Villiers se plek aanvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.