Spogvennootskap haal wind uit Protea-seile

Meg Lanning en Suné Luus. Foto: Twitter.

ʼn Goeie vennootskap tussen Tahlia McGrath en Ashleigh Gardner het toegesien dat Australië se vrouekrieketspan Suid-Afrika met ses paaltjies op St Georges-park geklop het.

Die Aussies – wat 125 lopies vir ʼn oorwinning moes jaag – was in die moeilikheid met hul telling op 40/3 nadat Marizanne Kapp van die openingskolwers (Beth Mooney en Ellyse Perry) ontslae geraak het.

Die 27-jarige McGrath is die wêreld se voorste T20-kolwer en sy het glad nie vir die tuisspan se boulaanval teruggestaan nie. Sy het tien grenshoue in haar blitsbeurt gemoker om saam met Gardner die wind uit die Proteas se seile te haal met ʼn vennootskap van 81 lopies om die vierde paaltjie.

Vroeër het Laura Wolvaardt en Tazmin Brits ʼn openingsvennootskap van 54 lopies geniet, maar daarna het die Suid-Afrikaners gesukkel om enige momentum in hul beurt op te bou.

Kapp (0), Chloe Tryon (1) en Delmi Tucker (7) het hopeloos te vroeg hul paaltjies verloor en die Proteas sal indringend na die tempo moet kyk waarteen hulle lopies aanteken.

Spanne soos Australië en Nieu-Seeland spog immers reeds met tellings van 173 en 189 in die toernooi.

“Ons het net nie genoeg lopies op die telbord gehad nie,” was Suné Luus (kaptein) se raakvatopsomming ná die afloop van die wedstryd.

Indien die Proteas vir die halfeindstryd wil kwalifiseer sal hulle hul laaste groepwedstryd teen Bangladesj moet wen, terwyl hulle sal duimvashou dat Nieu-Seeland met Sri Lanka in die Paarl sal afreken.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 124/6 in 20 boulbeurte: Tazmin Brits 45, Suné Luus 20 en Georgia Wareham 2/18.

Australië 125/4 in 16,3 boulbeurte: Tahlia McGrath 57, Ashleigh Gardner 28* en Marizanne Kapp 2/21.

  • Punteleer (Groep Een):
  1. Australië: 8 punte ná vier wedstryde
  2. Sri Lanka: 4 punte ná drie wedstryde
  3. Suid-Afrika: 2 punte ná drie wedstryde
  4. Nieu-Seeland: 2 punte ná drie wedstryde
  5. Bangladesj: Geen punte ná drie wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.