Sri Lanka in knyp ná SA kolwers sukkel

Hashim Amla. Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft

Hashim Amla. Argieffoto: AP Photo/Rick Rycroft

Suid-Afrika se kolwers het Donderdag se goeie kolfwerk, van Hashim Amla en JP Duminy, grootliks ongedaan gemaak toe die Proteas op die tweede dag van die derde kriekettoets teen Sri Lanka, sewe paaltjies vir 88 lopies verloor het.

Die Proteas is vir 426 uitgehaal nadat hulle na die eerste dag op 338/3 gestaan het. Toe swak lig en reën spel met sowat ʼn uur se speeltyd oor beëindig het, het Sri Lanka op 80/4 gestaan – nog 346 lopies agter die tuisspan.

Amla (uiteindelik 134 lopies, 391 minute, 265 balle, 16 viere) het Vrydag die nagwag en nuweling Duanne Olivier (3), Faf du Plessis (16) en Temba Bavuma (0) sien terugstap nadat net 26 lopies in 13 boulbeurte by die oornagtelling gevoeg is.

Bavuma, wat met Sri Lanka se kolfbeurt ʼn skitterende vangskoot gevang het, is vir sy tweede opeenvolgende nulletjie uit. Hy het in hierdie reeks 3, 8, 10, 0 en 0 aangeteken en daarmee die goeie begin van sy toetsloopbaan, wat ʼn honderdtal en vier vyftigtalle ingesluit het, skade aangedoen.

Drie lopies later was dit Amla se beurt om te stap en Suid-Afrika kan maar alte dankbaar wees dat hy Donderdag met sy telling op vyf laat val is en ook vir die vier vangskote wat die Sri Lankane Vrydag verbrou het.

Teen etenstyd was die telling 400/8, nadat Vernon Philander (0) ook sy paaltjie verloor het. Quinton de Kock het weer tot die redding gekom met ʼn goeie 34 lopies, wat dié keer met groter omsigtigheid as gewoonlik in 99 balle aangeteken is.

Saam met Wayne Parnell (23) het die kolfpaar 47 lopies vir die negende paaltjie daargestel om die beurt darem redelike aansien te gee.

Die aanvanklike skade aan die Proteas se kolfbeurt is Vrydag deur Dilruwan Perera (4/78) gedoen en die jongeling, Lahiru Kumara, het teen die einde nog twee slagoffers geëis vir sy ontleding van 4/107.

♦  Daar is ʼn paar kolwers in Sri Lanka se geledere met uitstekende vertonings in toetse, maar hulle het na vier toetsbeurte in die eerste twee toetse steeds nie geleer wanneer om na die bal te speel en wanneer nie. Hul afrigter, Graham Ford, trek seker sy hare uit oor die voortgesette onvermoë van sy spelers om met dissipline te kolf.

Die bal het weliswaar, ook toe Suid-Afrika gekolf het, deurgaans heelwat beweeg. Die Sri Lankane kon egter nie met ʼn groot telling op die telbord kolf soos die Proteas se kolwers Vrydag nie en hulle kolfwerk is net eenvoudig nie op standaard nie.

Dimuth Karunaratne (0) is met die vierde bal van Sri Lanka se kolfbeurt agter deur De Kock vanaf Philander gevang. Die Proteas moes daarna tot na teetyd vir hul volgende sukses wag en die volgende drie paaltjies het vir 34 lopies in die 15 beurte na teetyd geval.

Kusal Mendis het goed vir sy 41 gekolf, maar is toe geklop deur ʼn goeie bal van Kagiso Rabada, wat skerp geklim het. Tegniek, moontlik weens die gebrek aan blootstelling op harde kolfblaaie, het egter gesorg dat hy nie sy hande uit die pad kon kry nie.

Swak lig en toe al effense reën het met sowat 25 beurte se spel oor ʼn einde aan die dag se spel gebring.

♦ Met die swak lig en reënweer wat vorentoe kan lol, sal dit nie verbasend wees as Faf du Plessis Sri Lanka laat opvolg indien hulle nie die vereiste eerstebeurt-telling van 226 kan haal om die opvolg-opsie uit te skakel nie.

Opgesomde telkaart –
Suid-Afrika (eerste beurt) 426:  (Kolwers: Stephen Cook 10, Dean Elgar 27, JP Duminy 155, Hashim Amla 134, Duanne Olivier 3, Faf du Plessis 16, Temba Bavuma 0, Quinton de Kock 34, Vernon Philander 0, Wayne Parnell 23, Kagiso Radaba 0*. Boulers: Lahiru Kumar 4/107, Dilruwan Perera 4/78, Angelo Mathews 2/52).

Sri Lanka (eerste beurt) 80/4: (Kolwers: Kusal Mendis 41. Boulers: Vernon Philander 2/23, Kagiso Rabada 2/26, Duanne Olivier 0/13, Wayne Parnell 0/16)

Sri Lanka is na die tweede dag se spel 346 lopies agter Suid-Afrika met ses eerstebeurt-paaltjies staande.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.