Sri Lanka kan meer tevrede wees na die eerste dag se spel

Argieffoto

Argieffoto

Goeie dissipline deur Sri Lanka se boulers en ʼn gebrek daaraan deur die Proteas se kolwers het Maandag op St Georgespark veroorsaak dat die besoekers meer tevrede sou wees na die eerste dag se spel van die eerste toets.

Suid-Afrika se uitskeitelling was 267/6 op ʼn kolfblad wat min fratse uitgehaal het. Knaend-akkurate boulwerk deur veral Suranga Lakmal het die tuisspan se kolwers tot ʼn paar onbesonne houe uitgelok.

Vyf van die Proteas se ses paaltjies het geval nadat dit gelyk het of hulle goed ingegrawe was. Ironies genoeg was dit toe wel vangskote agter die penne wat vier van die paaltjies geëis het.

Die kolwers het selde onspeelbare balle gekry en in vier van die gevalle het hulle ver van hulle lyf af gespeel en randjie bygekry.

♦  Die Proteas se kolfbeurt het goed begin en hulle het op 92 sonder verlies gaan eet. Stephen Cook (59) en Dean Elgar (45) was goed in beheer totdat hulle kort na middagete binne vier boulbeurte deur twee goeie vangskote van die paaltjiewagter Dinesh Chandimal uitgehaal is, albei van Lakmal se boulwerk af. Skielik was die telling 105/2.

Hashim Amla en JP Duminy het toe die kolfbeurt effens reggeruk. Amla, op nommer drie, het hard gewerk, effens geskrop en baie stadig gekolf, duidelik daarop ingestel om uit die groef van sy reeks swak beurte te kom.

Hy is op 20 ook deur die kombinasie van Chandimal en Lakmal uitgehaal met die telling op178/3.

Duminy het uitstekend gekolf. Hy het sy 50-tal met nege pragtige viere behaal voordat hy ook sy paaltjie weggesmyt het met ʼn veeghou ver voor sy lyf van Rangana Herath af. Sy 63 het uiteindelik van 95 balle gekom nadat hy in ʼn stadium 46 in 54 balle gehad het.

Dit was ʼn pragbeurt, maar weer is ʼn paaltjie op ʼn skinkbord aan Sri Lanka gegee (213/4).

Temba Bavuma (3) het hierdie keer nie lank gehou nie. Hy was die vyfde man wat moes terugstap en die tweede beenvoor-slagoffer van Herath.

Faf du Plessis (37) het toe saam met Quinton de Kock (25 nun) gelyk of hulle die beurt weer stabiliteit sal gee, maar ook hý is agter die paaltjies van Lakmal af uitgehaal met Dimuth Karunaratne wat die vangwerk gedoen het.

De Kock sal saam met Vernon Philander (6 nun) Dinsdag die taak hê om die telling tot naby 400 te probeer opstoot.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika (eerste beurt): 267/6 (Kolwers: Stephen Cook 59, Dean Elgar 45, Hashim Amla 20, JP Duminy 63, Faf du Plessis 37, Temba Bavuma 5, Quinton de Kock 25*, Vernon Philander 6*. Boulwerk: Suranga Lakmal 4/62, Rangana Herath 2/48.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.