Sri Lanka seëvier in reeks teen Proteas

Sri Lanka se vrouekrieketspan het die T20-reeks teen Suid-Afrika met 2-1 beklink. (Foto: X/Internasionale Krieketraad)

Sri Lanka het sy eerste T20-reeksoorwinning oor die Protea-vrouekrieketspan gesmaak toe die besoekers die derde en beslissende wedstryd in Oos-Londen met vier paaltjies gewen het.

Sodoende het hulle die reeks met 2-1 beklink nadat Suid-Afrika die openingskragmeting oortuigend met 79 lopies gewen het.

Laura Wolvaardt en Nadine de Klerk het Woensdag toegesien dat die tuisspan 155/6 in die toegelate 20 boulbeurte kon aanteken, maar daarna het Chamari Athapaththu en Harshitha Samarawickrama die wind uit die boulers se seile geslaan.

Die twee kolwers het ʼn vennootskap van 97 lopies om die tweede paaltjie geniet en toe Marizanne Kapp uiteindelik vir Athapaththu skoongeboul het, het Sri Lanka net 54 lopies van meer as sewe boulbeurte benodig om die wedstryd en die reeks te wen.

Ondanks die reeksnederlaag swaai Suid-Afrikaners die septer wat individuele vertonings betref.

Wolvaardt en Kapp is die voorste lopiemakers, terwyl De Klerk en Tumi Sekhukhune die meeste paaltjies geneem het.

Krieket word egter as ʼn spansport gereken.

Die eendagreeks tussen die twee spanne begin Dinsdag, ook in Oos-Londen.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 155/6 in 20 boulbeurte: Laura Wolvaardt 56, Nadine de Klerk 44* en Sugandika Kumari 3/24.

Sri Lanka 156/6 in 19,1 boulbeurte: Chamari Athapaththu 73, Harshitha Samarawickrama 54* en Nadine de Klerk 2/25.

  • Reeksuitslae:

Eerste wedstryd: Proteas wen met 79 lopies

Tweede wedstryd: Sri Lanka wen met sewe paaltjies

Derde wedstryd: Sri Lanka wen met vier paaltjies

  • Statistieke:

Meeste lopies:

  1. Laura Wolvaardt (Suid-Afrika): 158 lopies in twee wedstryde teen ʼn gemiddeld van 79 en ʼn treftempo van 143,63.
  2. Marizanne Kapp (Suid-Afrika): 112 lopies in drie wedstryde teen ʼn gemiddeld van 37,33 en ʼn treftempo van 138.27.
  3. Harshitha Samarawickrama (Sri Lanka): 104 lopies in drie wedstryde teen ʼn gemiddeld van 52 en ʼn treftempo van 118,18.

Meeste paaltjies:

  1. Nadine de Klerk (Suid-Afrika): Vier paaltjies in drie wedstryde teen ʼn gemiddeld van 16,5.
  2. Tumi Sekhukhune (Suid-Afrika): Vier paaltjies in drie wedstryde teen ʼn gemiddeld van 19.
  3. WaliaraweKulasuriya (Sri Lanka): Vier paaltjies in drie wedstryde teen ʼn gemiddeld van 22,5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Swak. Sover ek weet is Sri Lanka baie laer op die wereldranglys as SA. Gaan dieselfde pad as die netbal wat nie eers meer die beste in Afrika is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.