Steve Smith gee Engelse krieketspan steeds nagmerries

Steve Smith in aksie. Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Wanneer die son ná vanjaar se reeks om die As gaan sak, gaan die Australiese kolwer Steve Smith steeds by die Engelse krieketspan spook.

Smith (82 lopies) het Saterdagmiddag op Old Trafford in Manchester steeds vierkant in die Engelse se pad gestaan en sy span na ʼn oorwinning in die vierde toets gestuur.

Australië, wat sy eerste beurt op 497/8 gesluit verklaar het, het Saterdagmiddag sy tweede beurt op 186/6 gesluit verklaar om aan Engeland die byna onmoontlike teiken van 383 op ʼn verwerende blad op die laaste dag te stel.

Engeland, wat 302 in sy eerste beurt aangeteken het, is deur die snelbouler Pat Cummins (2/18) in die 30 minute voor uitskeityd tot in sy skoene geruk nadat hy die paaltjies van Rory Burns (0) en Joe Root (0) met opeenvolgende balle laat kantel het.

Engeland kolf Sondagoggend op 18/2 voort, nog 365 lopies kort van ʼn oorwinning.

Steve Smith in aksie. Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Die reeks is tans met 1 – 1 gelykop en die Aussies sal die reeks die eerste keer sedert 2001 in Engeland beklink, want Engeland kon ses jaar laas op die laaste dag van ʼn toets walgooi deur die hele dag te kolf.

Teen Cummins, Mitchell Starc en Josh Hazlewood? Aikôna!

* Om die Engelse se dag verder te versuur: Smith het reeds 671 lopies in die reeks aangeteken teen ʼn gemiddeld van 134.20.

Hy het boonop die derde toets weens harsingskudding misgeloop nadat hy in die tweede toets deur Jofra Archer raakgeboul is.

Toe hy Saterdagmiddag gaan kolf het, was sy span op 44/4 in die moeilikheid, want die voorsprong was slegs 211 lopies.

Maar toe swaai hy die skaal die soveelste keer in sy span se guns nadat hy 82 lopies, wat 11 viere ingesluit het, van net 92 balle geslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Met nóg verdere blapse deur die skeidsregters kan Engeland heel waarskynlik weer die wa deur die drif trek soos in die vorige toets, toe Stokes na regte uit was voor die wentelling bereik is.
Regtig teleurstellend dat selfs Marais Erasmus, altyd die gerusstellende, betroubare rots op die veld, byvoorbeeld gister nie die duidelik b.v.p. van Leach raakgesien het nie.
Engeland het die Eendag Wêreldbeker met die skeidsregters se ‘hulp’ voor die neuse van die Black Caps weggeraap, en dit lyk nie asof die ooglopend foutiewe beslissings hul vreugde juis demp nie? Eintlik behoort dit.

Therese ·

En na my ligte tirade het Stokes in sy tweede beurt wraggies gestap vóór die vinger gelig is. Seldsaam en sowaar goed om te sien. Mooi so, Stokes!

Nico ·

Wonder hoe rooi en monder waardig bal peuter Flaffie Du Plessis en KSA se gesigte nou is. Hulle kan nou sien dat hul oorwinning in verlede jaar se reeks net gekom het omdat hulle op die manier van Warner en Smith onslae kon raak. Ja verlede jaar het Warner lopies aangeten voordat AUS hulle terug huis toe geroep het. Guts wat ons bestuur nie gehad het om ons bal peuteraars behoorlik te straf nie. Do so voort Smith.

JohanL ·

Nou ja, dit is nou ‘n snaakse invalshoek van Nico. Miskien kan ons ook redeneer dat Aus verlede jaar juis op balpeutery moes terugval, omdat SA besig was om hul te wen. En die Aussies kon dit nie hanteer nie. So die Aussies het hul eie bed opgemaak – om te redeneer dit is al hoe SA van hulle ontslae kon raak, is nonsens. Dink jy dat Smith, Warner en Bancroft sonder enige straf moes afgekom het nadat hul sondes op die lappe gekom het?

Meeste indien nie alle spannie nie, probeer maar die bal kry om beter te swaai of omgekeerd te swaai. Veral deur sekere suiglekkers ens te suig en dan die bal met hul spoeg te werk (is dit moreel regverdigbaar?). Maar skuurpapier (deur die Aussies) het alle grense oorskry. Jou vergelykings deur Faf te gebruik as voorbeeld is teleurstellend, maar dit is seker jou opinie. Ek sal egter graag wil hoor presies wat jy ag as balpeutery en wat nie. Dan kan ons dalk beter debatteer of Faf ‘n regverdige straf gekry het of nie. En die Aussies regverdig gestraf is of nie.

Karl ·

@JohanL, so moord met n mes en moord met n geweer is nie dieselfde moord nie? Faf het dieselfde reel MEER as een keer oortree, so ook philander en kie met hul zips. Of dit nou lekkers is of skuurpapier, dis onder dieselfde reel, ALBEI het dieselfde effek op die bal. CA is net baie strenger as CSA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.