Steyn, Rabada sal fiks wees vir Wêreldbeker

Dale Steyn se skouer het wel gesorg dat sy IPL-toernooi kortgeknip is, maar hy behoort slaggereed te wees vir die komende Wêreldbeker. Foto: Cricinfo.

Die Protea-afrigter, Ottis Gibson, is vol vertroue dat sy twee beste snelboulers Engeland sal laat bontstaan in die openingswedstryd van die komende Wêreldbeker-kriekettoernooi.

“Dale Steyn en Kagiso Rabada behoort gereed te wees vir die eerste wedstryd. Ja, albei het las van beserings gehad, maar mense hoef nie bekommerd te wees nie,” het Gibson aan die media gesê.

Beserings het gesorg dat albei boulers se IPL-veldtogte kortgeknip is – Rabada omdat sy rug hom probleme gegee het en Steyn omdat sy regterskouer hom weer begin pla het.

Die Proteas het dié week in Kaapstad byeengekom en het as spanbou-aktiwiteit ’n staptog op Tafelberg aangepak. Met die spelers se IPL- en graafskapkrieketverpligtinge is dit die eerste keer in ’n lang tyd dat hulle as ’n span byeenkom.

Quinton de Kock (Mumbai Indians), Faf du Plessis en Imran Tahir (Mumbai Indians) het in die eindstryd van die afgelope IPL gespeel.

Intussen sal Anrich Nortje steeds op ’n gereedheidsgrondslag vir die Wêreldbeker beskikbaar wees. Dít ten spyte van sy onttrekking weens ’n handbesering.

Die Warriors-blits het sy duim in ’n oefensessie beseer en dit sal tot ses weke neem om te herstel. Die WB-toernooi word oor agt weke beslis.

“Indien iets met iemand teen die einde van die toernooi gebeur, het ons steeds die geleentheid om hom te kies as hy ten volle herstel het. Hy kan dus steeds in die doodsnikke van die toernooi speel,” het Gibson gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J ·

Dan vat ons wéér vir Steyn saam wat nie eens deur n 20/20 game kan kom nie. R150 sê hy is weer beseer sodra A) Hy meer as 2 wides bowl. B) Wanneer ons 2 games verloor. Hy gaan dit nie deur 7 weke se krieket maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.