Stoinis en Sams bult spiere in lopiefees

Daniel Sams en Marcus Stoins het so amper die wedstryd vir Australië beklink. Foto: Marty Melville/AFP.

Die Nieu-Seelandse en Australiese T20-krieketspanne het vandag altesaam 434 lopies in 40 aksiebelaaide boulbeurte in Dunedin gemoker.

Die tuisspan het weliswaar die kragmeting met vier lopies gewen, maar daar was ’n paar benoude oomblikke – veral toe Marcus Stoinis en Daniel Sams die langsteel ingelê het.

Nieu-Seeland het vir die besoekers ’n reuseteiken van 220 vir ’n oorwinning opgestel; grotendeels te danke aan Martin Guptil (97 van 50 balle) en Jimmy Neesham (45 van 16 balle) se warrelwindbeurte.

Die Suid-Afrikaans gebore Devon Conway – wat in die eerste wedstryd 99 onoorwonne lopies geslaan het – is hierdie keer vir net twee lopies uitgehaal.

Daarna het die tuisspan se boulers amok in die eerste 13 beurte van Australië se kolfpoging gemaak. Mitch Santner (4/31) en Tim Southee (1/47) het gesorg dat die besoekers op 113/6 gesteier het, maar toe kom Stoinis en Sams bymekaar.

Die twee het ’n uitstekende vennootskap van 92 lopies gedeel en die Kiwi’s het elke nou en dan benoud na die telbord geloer.

Vyftien lopies was van die laaste ses aflewerings benodig, maar Sams (41 van 15 balle) is met die eerste aflewering van Neesham se beurt terug na die kleedkamer gestuur, terwyl Stoinis (78 van 37 balle) kort daarna gevolg het.

Nieu-Seeland het die eerste wedstryd van die reeks met 53 lopies gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.